NA Smit Swembad-hek na ingryping oopgesluit

Voorbereiding van die NA Smit-swembad vir die swemitems van die groot Highgate Tweekampbyeenkoms wat die naweek op Oudtshoorn plaasvind, kon kort gelede eers begin nadat die waarnemende direkteur gemeenskapsdienste by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Luyanda Fatuse, ingegryp het.

Fatuse het vanmiddag die swembad besoek om met ontevrede swembadwerkers en lewensredders te praat wat vanoggend die swembad se hek gesluit en aangedring het op ‘n gesprek met die hoof van die afdeling waarvoor hulle werk. Volgens die werkers, wat by verskillende swembaddens in die dorp werk, is daar onlangs twee keer mense aangestel om by die swembaddens te werk en is daar by hulle onduidelikheid wie tans in diens van die munisipaliteit is.

Toe Die Hoorn omstreeks 14:00 by die swembad aankom, het ‘n groep werkers voor die geslote hek van die swembad gesit en gesê dat hulle al drie tot vier ure lank wag vir iemand van die munisipaliteit om met hulle te kom praat. Hulle het aangedui dat die hek nie oopgesluit sal word voordat hul vrae aangespreek is nie. Die Hoorn het die situasie onder die aandag gebring van raadslid Johan Allers, wat onlangs ‘n dringende mosie oor die toestand van die swembad by die raad ingedien het.

Fatuse was kort na 15:00 op die toneel om met die werkers te praat. Hy het daarna aan Die Hoorn gesê hy het onderneem om Maandag met die werkers te vergader oor hul kontrakte en om hul probleme aan te spreek. Van die werkers wie se kontrakte reeds verval het, beweer dat hulle mondeling deur iemand ingelig is dat hulle steeds “van maand tot maand” sal kan werk en onder die indruk is dat hulle steeds in diens van die munisipaliteit is.

Munisipale wetstoepassers was ook later op die toneel, terwyl die polisie en raadslede Allers en Johan Duvenage ook die swembad besoek het. Volgens Fatuse sal die wetstoepassers en die polisie ook Saterdag by die swembad teenwoordig wees.

Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp en Biathlon, sê daar was teen vanmiddag nog heelwat voorbereidingswerk wat by die swembad gedoen moes word. (Deur Liesel le Roux)