
Soos die gesegde lui, is elke hond baas op sy eie werf.
Vlooi, ’n Boston Terriër-teef het dié gesegde ter harte geneem en Vrydagaand 14 Februarie ’n pofadder die stryd op haar werf, aangesê. Daar was beslis geen liefde tussen die twee dierespesies nie.
“Soos die noodlot dit wil hê, was ons in Gauteng by familie toe die huisoppasser, Antoinette Hendricks, ons bel om te sê daar is ’n pofadder op die werf,” vertel Jaco, Vlooi se eienaar. Hulle woon op ’n plaas ongeveer 5 km buite Oudtshoorn.
Antoinette het toe reeds die egpaar se ander honde in die huis gekry, maar die 18 maand-oue Vlooi se ore het skynbaar nie gewerk nie.
Sy het later egter wel geluister en in die huis ingekom. Dis toe dat Antoinette opmerk dat die hond haar een voorpoot in die lug hou en vinnig asemhaal.
“Sy het ons weer gebel en gesê sy dink Vlooi is moontlik raakgepik, waarna ons vir Dr Glen Carlisle, gebel het. Hy het gesê hy ry dadelik praktyk toe en sal haar help, al was dit reeds laataand gewees,” sê Jaco.
Jaco se ouers, Jannie en Tienie het plaas toe gery en met Vlooi veearts toe gejaag, waar sy teengif toegedien is en vir die aand op ’n drup geplaas en met pynmedikasie behandel is. Sy kon Saterdag-oggend huis toe gaan.
“Dit blyk dat sy reeds verskeie kere na die slang gekap het, en toe hy haar uiteindelik raakpik, was die volume gif nie te groot gewees nie,” vertel Carlisle. Hy verwys daarna as ’n “droëbyt”. Volgens hom is honde se kans op oorlewing groter as ’n pofadder hulle pik, as wanneer ’n kobra of boomslang hulle pik.
Dieselfde teengif word toegedien vir poffadder- en kobra pikslagoffers as dit beskikbaar is. Die teengif teen boomslangbyt is baie duurder.
Vlooi was gelukkig dat Carlise wel teengif by sy praktyk gehad het. “Teengif is nou baie skaars in die land. Ek het nog net een buis oor en sukkel om nog in die hande te kry. Vlooi het waarskynlik die tweede laaste buis in die land gekry,” sê hy.
Volgens Carlise is ’n pofadderbyt sitotoksies wat die weefsel laat vrot en ’n dier kan ’n ledemaat verloor of selfs doodgaan. ’n Kobra se gif is neurotoksies, wat beteken dat dit die senuweestelsel aantas. Dit beїnvloed die dier se asemhaling en die dier kan ook verlam word.
Boomslange se gif is hemotoksies wat die rooibloedselle vernietig en bloedstolling ontwrig, terwyl dit ook orgaandegenerasie en algemene weefselskade veroorsaak. Alhoewel boomslangbyte nie so algemeen soos kobra en pofadders voorkom nie, sal hul wel pik wanneer hulle bedreig voel.
Hou jou geliefdes en diere so veilig teen slangbyte:
- Hou jou erf skoon en vry van rommel, veral tuinrommel. Dit lok muise en paddas wat weer slange lok aangesien dit hul natuurlike prooi is.
- Neem ’n foto van die slang indien moontlik vir identifisering later.
- Skakel die brandweer om die slang te verwyder en hou die slang op ’n veilige afstand dop indien moontlik tot hulp arriveer.
- Kry so gou moontlik mediese hulp vir mens en dier. Daar is geen boereaat wat werk teen ’n slangbyt nie.
Noodnommers:
Beheerkamer 044 203 7800
Oudtshoorn Hospitaal: 044 203 7200
Mediclinic Klein Karoo: 044 272 0111
Oudtshoorn Dierekliniek: 044 272 3076 of 083 701 1367 (na-ure)
Kango Dierekliniek: 044 279 1400 of 083 301 6858 (na-ure). (ANGELIQUE ERASMUS)