’n Jaar van veranderinge en propvol goeie dinge

Ons is daar, die laaste uitgawe van die jaar en ons voorblaaie van die afgelope jaar getuig van soet en suur. Die een kan nie sonder die ander nie, maar dit voel tog asof ons voorblaaie die afgelope jaar meer soet as suur gehad het.

Daar was ’n hele aantal hoogtepunte waarvan die mooiste een waarskynlik Mia le Roux se verkiesing as Mej. Suid-Afrika was.

Dit het Oudtshoorn internasionaal bekend gemaak. Dan was daar natuurlik ons volstruisvere wat by Lady Gaga se vertoning by die Olimpiese Spele gepronk het en Hilton Nel van Calitzdorp se beeldhouwerke wat ook ’n draai in Parys gemaak het.

Die droogte se rug is finaal gebreek en al het dit groot vloedskade meegebring, loop die damme oor en boere glimlag breed. Suid-Afrika se eerste regering van nasionale eenheid kom na die verkiesing aan bewind en Oudts-hoorn kry kort daarna ’n nuwe burgemeester en ons eie regering van plaaslike eenheid. (So bietjie soet en suur gemeng.)

As enigiemand nog daaraan twyfel dat Oudtshoorn die voorste dorp in die Karoo is, getuig die ontwikkeling wat aan die gang is, duidelik daarvan.

Kusdorpe raak vol en Oudtshoorn is die volgende keuse.

Huise word gebou en winkelsentrums word opgerig. Sport- en kultuurgebeur-tenisse op nasionale vlak word hier aangebied.

Ons besigheidskamer is aangewys as die AHi se beste van die jaar en ons spog ook met die opkomende sakeleier van die jaar.

En natuurlik, is Die Hoorn, jou eie koerant, sedert Oktober heeltemal gratis. Aan die einde van ’n jaar wat soveel positiewe dinge opgelewer het, is al wat oorbly om elke leser en elke inwoner die mooiste Kersgety en ’n selfs beter 2025 toe te wens.

Baie dankie ook aan elke adverteerder en nuusbydraer die afgelope jaar. Ons volgende uitgawe verskyn op 17 Januarie.

Geniet die feestyd, wees dankbaar, wees positief en wees veilig. (REDAKSIESPAN)