MOSIES van wantroue in Kannaland se burgemeester, Jeffrey Donson, onderburgemeester, Werner Meshoa, en verteenwoordiger by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Hyrin Ruiters, sal volgens ‘n ingeligte bron Woensdag by ‘n spesiale raadsvergadering van die Kannaland-raad ingedien word. Al drie dié raadslede is van Icosa.
Die versoek vir ‘n spesiale vergadering en kennis van die mosies van wantroue is volgens die bron deur raadslede van die ANC, DA en die Kannaland Independent Party (KIP) ingedien. Onder die redes wat verstrek word, is omstrede hofsake waarin Donson en Meshoa voorheen betrokke was. Donson is in 2008 skuldig bevind is aan die statutêre verkragting van ‘n minderjarige terwyl Meshoa in 2021 skuldig bevind is aan bedrog en dwarsboming van die gereg.