DIE koalisie wat die Groter Oudtshoorn se raad beheer, het verlede Vrydag verder verbrokkel toe die Patriotic Alliance (PA) ook bande met die koalisie gebreek het.
Einde verlede jaar het Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI) ook aan dié koalisie onttrek.
Met die verlies van die raadslid van OGI en die raadslid van die PA bestaan die huidige regerende koalisie slegs uit 13 van die 25 raadslede – die ANC se agt raadslede, twee raadslede van Icosa en een elk van Good, Saamstaan en Advieskantoor.
Mosies van wantroue in die burgemeester, Chad Louw (ANC), die onder-burgemeester, Vlancio Donson (Icosa), en die speaker, Sonia Bentley (Good), is na verneem word ook intussen ingedien vir stemming by die volgende raadsvergadering.
Dit is egter geen uitgemaakte saak dat die wantrouemosies tot samewerking tussen opposisiepartye en ’n bewindsverandering op die dorp sal lei nie, ondanks talle bespiegelings die afgelope week in dié verband.
Onrealistiese eise van kleiner partye mag glo in die pad van so ’n ooreenkoms staan.
Vrae oor werksessie in Mosselbaai
Daar was vandeesweek ook vrae oor ’n byeenkoms van raadslede van die Groter Oudtshoorn verlede Woensdag en ’n gedeelte van Donderdag (23 en 24 Februarie) by The Point Hotel in Mosselbaai. Volgens die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, was die besoek aan die hotel ’n spanbousessie van die regerende koalisievennote met vier amptenare wat hulle vergesel het.
“Daar was ’n volledige program en die uitkomste sal aan die raad voorgelê word. Weens die aard van die spanbou was dit raadsaam om dit buite die grense van Oudtshoorn te hou.”
Aanvullingsbegroting goedgekeur
Die raad het intussen Maandagmiddag sy aanvullingsbegroting eenparig tydens ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur.
Dit was die laaste dag waarop munisipaliteite hul aanvullingsbegrotings vir 2022 kon goedkeur. (Deur Liesel le Roux)
Mosie van wantroue terwyl koalisie krimp

Oudtshoorn se Raadslede moet leer dat Party Politiek moet vermy word tussen verkiesings. Dit is niu tyd om hande te vat en elke goeie voorstel as n eenheid in diversiteit deur te voer. Ware Leierskap is nou nodiger as ooit.
Hou op toelaat dat Nationale en of Provinsiale Leierskap ons dorp beheer. Dien jul Gemeenskap. Dit is waarvoor ons julle verkies het.