“Ek is hier om lewens te verander, ook myne.”
So skryf Mia le Roux, een van die 16 finaliste in vanjaar se Mej SA-kompetisie, oor die rede vir haar deelname aan vanjaar se Mej SA-kompetsie.
Die name van die 16 finaliste is oor die naweek bekendgemaak.
Mia, wat doof is en met die hulp van ’n kogleêre inplanting hoor, het grootgeword en skoolgegaan op Oudtshoorn
Sy was 10 maande oud toe haar ouers, Schalk en Liesel, in 1996 vasgestel het sy is doof. Schalk was in daardie stadium die uitgewer en mede-eienaar van ’n koerant op Sasolburg, Sasolburg Bulletin.
Die gesin het in 1997 na Pretoria verhuis sodat Mia tydens haar voorskoolse jare die Carel du Toit Sentrum, “waar dowe kinders leer praat”, as kleuterskool kon besoek.
Toe sy twee jaar oud was, het sy ’n kogleêre inplanting ontvang, en was in daardie stadium een van die jongste kinders in die land om dié inplanting te ontvang.
Dit het haar gehelp om te kan hoor en te leer praat.
Begin 2001, toe Mia vyf jaar oud was, het die Le Roux-gesin na Oudtshoorn verhuis waar Schalk en Liesel Die Hoorn begin het.
Mia is ’n oud-leerder van die Laerskool Van Reede, Principia Kollege en die Hoërskool Oudtshoorn.
Sy is in haar matriekjaar as die Hoërskool Oudtshoorn se Mej Struisie aangewys en is in 2014 as Mej Tuinroete/Klein Karoo gekroon.
Mia, wat sedert 2020 in Kaapstad woon, werk as ’n navorser/bemarker en is ’n deeltydse model.
Sy is ook ’n opgeleide fiksheidsinstrukteur, en studeer tans deeltyds vir die graad BCom Bemar-king.
Een van haar passies is om gemeenskappe in te lig en op te voed oor doofheid en mense met doofheid.
Sy skryf op Instagram: “I am here to change lives, including mine. I have lived through the challenges faced by the deaf.”
“Everyone has a story. It is not our definition or label.”
“We cannot always follow conversations; we tire out more easily and constantly feel the need to explain ourselves. We are not here to be ashamed; we are here to be amazing. But for that to happen, we have to be brave, step up, and educate our communities on how they can help us become equals.”
- Volg Mia en haar reis gerus op Facebook en Instagram.
- Crown Chasers word Saterdae op SABC 3 om 20:30 uitgesaai en volg die deelnemers aan Mej Suid-Afrika 2024 se ervarings.