Merkwaardige Meester Ampie word 101

Ampie Wicomb op sy 101ste verjaardag saam met die skrywer van die berig, Garnett Wicomb. Foto verskaf

Die oudste Wicomb, die merkwaardige Adam Wicomb, alombekend as Meester Ampie, het Maandag, sy 101ste verjaardag saam met sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders by sy huis in Colridge View op Oudtshoorn gevier.

En soos verlede jaar toe hy 100 jaar oud geword het, kon daar weer nie ‘n behoorlike partytjie weens Covid-19 gehou word nie.

Meester Ampie geniet steeds goeie gesondheid en pen nog feitlik daagliks sy wyshede op papier neer.

Hy is op 20 Desember 1920 op Matjiesrivier onder die Swartberge gebore. Hy was net tien jaar oud toe sy pa in 1930 oorlede is en sy ma vir hom, sy twee broers en twee susters onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.

“Ek het by haar geleer om ten spyte van swaarkry en armoede altyd ‘n trotse mens te wees. Ons het bitter swaar grootgeword, maar dit het ons nie onder gekry nie en daarom sal ek nooit vergeet waarvandaan ek kom nie. My erfenis is vir my mooi,” vertel hy. “Ek moes na standerd ses uit die skool en vir twee jaar op die plaas werk om die huis se inkomste aan te vul.”

Hy was daarna een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn.

Meester Ampie het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou, waar hy sy vrou, Maggy, wat hom reeds geruime tyd gelede ontval het, ontmoet het. Ses kinders is uit die huwelik gebore.

Na twee jaar in die onderwys is hy na Kammanassie en was daarna prinsipaal van Snyberg Primêre Skool vir sewe jaar.

Hy is toe aangestel as skoolhoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool waar hy vir 24 jaar aan die stuur was, totdat hy in 1981 die tuig neergelê het.

Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en vanaf 1985 was hy diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is. Hy was een van die stigterlede van dié kerk. (Deur Garnett Wicomb)