Meer as 100 mm val in dele van Oudtshoorn

Baron van Ree­destraat waar water die muur om Hlangana Lodge laat meegee het. Foto: Schalk le Roux

Skade op die hoek van Noord- en Baron van Reedestraat. Foto: Schalk le Roux

By die Oudtshoorn Aftreeoord is talle huise oorstroom en moes inwoners bygestaan word om huise te ontruim. (Foto verskaf)

Munisipale spanne verwyder Maandag klippe uit Dassieweg. Foto: Stefan Goosen

’N VINNIGE meer as 100 mm reën wat Maandag in die bestek van enkele ure in dele van Oudts­hoorn geval het, het paaie in riviere omskep, terwyl verskeie huise en erwe oorstroom is.

Veral huise wat teen ’n helling of laagliggend geleë is, het deurgeloop.

By die Caves Aftreeoord en die Oudtshoorn Aftreeoord is talle huise oorstroom met verskeie inwoners hier wat bygestaan moes word om hul huise te verlaat.

Ook diere moes gehelp word. By die Cango Wildlife Ranch moes die munisipale nooddienste hulp gaan verleen, terwyl hulle ook twee honde moes red wat in Buitekantstraat in ’n oorstroomde huis vasgekeer is.

Volgens Ferdi (Yster) Human, ’n onderwyser van die Hoërskool Oudtshoorn, het sy dogter hom die oggend by die skool gebel en gevra vir hulp toe sy agtergekom het twee honde is in hul bure se oorstroomde huis vasgekeer. Human sê ’n berg water het van Wallacestraat agter die huis deurgebreek, klaarblyklik omdat stormwatergate verstop was en die water nie kon wegloop nie. Toe die nood­dienswerkers op die toneel kom, het die honde al binne die huis in die water geswem om te probeer oorleef. Die werkers moes deur heup­hoogte water loop om die honde te gaan red.

Die krag van die water het ook verskeie grensmure laat omkeer, onder meer by die SANW in Parkweg, en by Hlangana Lodge en die Body Al­che­­my Centre (ou Backpackers) in Baron van Ree­destraat. Om Oudtshoorn is die Swartbergpas, Robinsonpas en die pad na die Kango Grotte tydelik ge­sluit, terwyl al die laagwaterbrûe in die dorp onder water was.

Dié harde reën het egter kol-kol in en om die dorp geval. In Oe­wer­sig en aangrensende woongebiede is meer as 110 mm deur inwoners gemeet, naby die middedorp 72 mm, in die lughawe-omgewing slegs sowat 30 mm, 14 mm in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam en slegs 2 mm langs die sementpad.

Sterk wind en nog reën waarskynlik op pad
Die SA Weerdiens het intussen ’n weerwaar­skuwing uitgereik vir baie sterk tot stormsterkte wind Donderdag tot Saterdag langs die kus tussen Saldahabaai en Plettenbergbaai wat teen Vrydag na die aangrensende Klein Karoo en Karoo kan versprei. Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n weerwaarskuwing geplaas van moontlike swaar reën vanaf omstreeks 01:00 Saterdagoggend.

• Tania Steffens, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, het gister gesê die munisipaliteit kon nog nie die omvang van skade bepaal nie, omdat inwoners steeds nuwe voorvalle rapporteer.

Munisipale spanne is ook reeds van Maandag – kort nadat die reën opgehou het – besig om paaie skoon te maak.

Herstelwerk sal eers gedoen kan word nadat paaie droog is. Die grootste skade aan paaie is by die hoek van Baron van Reede- en Noord­straat, hoek van Jan van Riebeeckweg en Van der Rietstraat, asook in Klipbokstraat.

Steffens sê die munisipaliteit het begin met die opgradering van die dorp se stormwater-infrastruktuur aangesien die kapasiteit daarvan tans nie genoegsaam is om swaar reën te hanteer nie. (Deur Liesel le Roux)