Iets het gebeur wat tot die ongeluk gelei het, maar hy kan nie onthou wat dit was nie. Hy was daarna bewusteloos en toe hy bykom, het hy agtergekom daar was ’n ongeluk. Hy het uit die motor geklim en na die pad gestap om motors te stop. Niemand het egter gestop nie en eers teen dagbreek het Leon Botha en sy vriendin hom opgelaai het.
So het Bulelani Bans, regsverteenwoordiger van Sidney Berry (27), Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof gesê toe die verhoor van Berry uiteindelik begin het met die getuienis van Botha.
Berry staan tereg op klagtes van strafbare manslag en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen. Marilize Nortier (18) was op 22 September 2019 saam met Berry in die motor en het volgens ’n nadoodse ondersoek verdrink terwyl sy in die motor vasgekeer was.
Botha het getuig dat hy die motor van Berry op sy passasierskant in die sloot met water van so ’n driekwart meter sien lê. Volgens hom het Berry ’n wond aan die kant van sy gesig gehad en hy het hom na sy woning geneem. Berry het egter so erg na drank geruik dat hy sy motorvenster oopgedraai het.
Op ’n vraag van Bans het Botha getuig dat Berry egter koel en kalm opgetree het, nie geslinger het of onsamehangend gepraat het nie.
Bans het dit aan Botha gestel dat die feit dat beskuldigde koel en kalm opgetree het, nie beteken dat hy nie omgegee het nie. “Verskillende mense tree op verskillende wyse op nadat hulle skok opgedoen het,” het Bans gesê.
Lees meer in Donderdag 24 Februarie se uitgawe van Die Hoorn. (Deur Garnett Wicomb)