Man by Oudtshoorn-ingang vasgetrek met sakke vol dagga

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto verskaf

’N 27-JARIGE man is Saterdagmiddag deur lede van die Landelike Blitspatrollie op die N12 by die ingang van Oudtshoorn op ’n klag van handel in dwelms in hegtenis geneem.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die polisie Saterdag op inligting van die publiek gereageer en omstreeks 15:20 ’n maroenkleurige Volkswagen Polo gestop. Die voertuig is deursoek en verskeie sakke vol dagga gevind.

Spies sê die polisie het op 17,6 kg dagga beslag gelê waarna die man in hegtenis geneem is.

Blitspatrollielede en verkeersbeamptes het Saterdag ook op die N2 by Wildernis beslag gelê op dwelms wat in ’n Honda Jazz gevind is. Vyf pakkies “magic mushrooms” en ’n klein hoeveelheid fyngemaakte Ecstasy is in die voertuig gevind. ’n 33-jarige verdagte is in hegtenis geneem op ’n klagte van die besit van dwelms.

Albei verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.