Ma gaan borg vra

Klein Ashwin Jonkerman (7) is Sondag, 11 Augustus dood in sy bed deur sy ma gekry, nadat hy na bewering te moeg was om kerk toe te gaan. Sy ma Drezene Jonkerman is egter 10 dae later op 21 Augustus in hegtenis geneem, en staan tereg op ’n klag van moord. Ashwin is na bewering verwurg. Die saak is tot 3 September 2024 uitgestel. Jonkerman het aangedui dat sy vir borgtog gaan aansoek doen. Foto: Facebook

Die saak teen die ma van die sewejarige Ashwin Jonkerman van Korhaanlaan, Bridgton, wat op Sondagoggend (11 Augustus) dood in sy bed gevind was, nadat hy glo gaan slaap het, is Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof vir ’n formele borgtogaansoek tot 3 September uitgestel.

Die 39-jarige Drezene Jonkerman staan tereg op ’n klagte van moord op haar seuntjie.

Uitslae van ’n nadoodse ondersoek het volgens Sers Christopher Spies, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, tekens van misdaad met Ashwin se dood uitgelig en Jonkerman is op Woensdag 21 Augustus in hegtenis geneem.

Haar regsverteenwoordiger van die plaaslike regshulpraad het die hof Dinsdag meegedeel dat sy om borgtog aansoek wil doen en versoek dat die saak uitgestel word vir konsultasie met die beskuldigde.

Die saak dien voor landdros Zuastrid Deyce.

Ashwin was ’n gr 1-leerder aan die De Villiers Primêre Skool en is reeds verlede Saterdag ter ruste gelê.

Die Hoorn het vroeër berig dat Ashwin volgens sy ma die Sondag, 11 Augustus, nie wou kerk toe gaan nie omdat hy baie moeg gevoel het en wou slaap. Jonkerman het op daardie stadium aan Die Hoorn vertel dat sy iemand gereël het om by hom te bly sodat sy kon kerk toe gaan.

Met haar terugkoms het sy hom in sy bed gekry en hom probeer wakker maak, maar hy het nie gereageer nie.

’n Ambulans is ontbied en Ashwin is deur paramedici by die huis dood verklaar.

Die stasiebevelvoerder van die SAPD op Oudtshoorn, brigadier Avral Kriga, het die ondersoekspanlede geloof vir hul ywer wat gelei het tot die inhegtenisname en daaropvolgende hofverskyning van die beskuldigde. (Deur Garnett Wicomb & Lindi Brill)

Be the first to comment on "Ma gaan borg vra"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*