DIE ligflitse en harde “donderweer” wat inwoners van die Suid-Kaap omstreeks 01:00 op 9 Augustus gesien en gehoor het, was inderdaad ’n bolied wat bokant die Kammanassie Natuurreservaat ontplof het, met fragmente daarvan wat moontlik in die Kammanassieberge kon geval het.
’n Bollied is ’n helder meteoor wat die atmosfeer binnedring en ontplof.
Die Astronomiese Vereniging van Suid-Afrika (AASA) het dié terugvoer op hul webblad gepubliseer op grond van terugvoer van mense wat die verskynsel gesien en gehoor het asook ’n video wat die ligflits toon. (Lees meer oor ASSA se bevinding by https://assa.saao.ac.za/)
AASA het bereken dat die bolied, wat van wes na oos beweeg het, moontlik naby en net suid van Oudtshoorn begin disintegreer en in die omgewing bokant die Kammanassie Natuurreservaat uitmekaar gebreek het.
Inwoners van die Suid-Kaap in ’n gebied wat strek vanaf Riversdal in die weste tot by George in die ooste het in die vroeë oggendure van 9 Augustus ’n geluid soos die van donderweer gehoor, onder meer in dorpe soos Riversdal, Mosselbaai, Oudtshoorn, Boggomsbaai, George, Hartenbos, Kleinbrakrivier, Wildernis en De Rust.
Enkelinge het ook ’n ligflits of meer gesien.
’n Oudtshoorniet wat die bolied en die ontploffing deur sy kamervenster gesien het nadat hy deur raserige mense wakker gemaak is, Denver Jansen, het Dinsdag bevestig dat sy kamervenster in Toekomsrus in die rigting van Dysselsdorp en die Kammanassie uitkyk. Die klank, ’n harde dreungeluid, het hy sowat wat ’n minuut later gehoor.
Volgens AASA se webblad het hulle die beste beskrywing van die verskynsel gekry by ene Ted Nutting wat sowat vier sekondes lank ’n heldergroen vuurbal in die lug gesien het wat van wes na oos beweeg en toe in vier of vyf fragmente gedisintegreer en met ’n helder flits verdwyn het. Klank het sowat twee minute later gevolg – vier knalle en daarna iets soos die geluid van ’n straalvliegtuig.
’n Video van Godwin Pangel wat in George geneem is, toon ’n kort, baie helder flits, met ’n tydsduur van minder as een sekonde, en word twee minute 56 sekondes later gevolg deur ’n bulderende geluid. Die tyd van die flits was om 01:00:30 en die tydsverloop totdat die klank gehoor word, dui aan dat dit van sowat 60 km daarvandaan kom.
Dié wanopvattings nie korrek nie
Volgens die verklaring van die astronomiese vereniging is bewerings op sosiale media dat die verskynsel dalk ’n “skyquake’ of deel van die Perseïd-meteoorstorting was, totale wanopvattings.
• Terminologie: Deeltjies wat die atmosfeer binnedring, word ’n meteoor genoem. ’n Helder meteoor staan bekend as ’n vuurbal, en as dit ontplof as ’n bolied. As dit die grond tref, word dit ’n meteoriet genoem. (Bron: https://assa.saao.ac.za/) (Deur Liesel le Roux)
Ligflitse is ’n bolied wat bo Kammanassie ontplof
