Met deursettingsvermoë, harde werk en ’n passie vir erfenis het ’n aantal inwoners die CP Nel-museum nou op ʼn herstelpad.
Na jare se stoei en hulpeloos toekyk hoe die museum agteruitgaan en fondse eenvoudig wegsmelt, is daar nou lig aan die einde van die tonnel.
Nadat die museum as gevolg van bestuurskwessies in Januarie moes sluit, het die nuwe raad van trustees en die Vriende van die Museum volstoom aan die werk gespring.
Verlede Woensdag het vrywilligers sowel as twee museum-spanne van Mosselbaai en George ingespring om die museum te begin skoonmaak en orde te skep.
Met Die Hoorn se besoek aan die museum Maandag, was dit duidelik dat dié belangrike stuk erfenis geweldig benadeel is deur swak bestuur die afgelope aantal jare en dat daar groot werk voorlê.
Na talle mediaberigte oor probleme by die museum en ernstige vrae wat gevra was oor die bestuur, blyk dit dat daar uiteindelik die vooruitsig is dat die museum weer op die regte pad is.
Volgens die voorsitter van die nuwe raad van trustees, Herman Labuschagne, gaan dit egter nie ’n gelykpad wees nie.
“Buiten die geweldige klomp werk wat hier gedoen moet word, het ons ernstige finansiële uitdagings. Ons moes sommer met die intrapslag opgehoopte skuld van meer as R300 000 delg.” Hazel Jonker van Vriende van die Museum, beaam dit.
Van ’n belegging van heelwat meer as ’n miljoenrand wat die Vriende van die Museum oor die jare bymekaar gemaak het, is daar nie ’n duit oor nie.
Labuschagne is egter vol vertroue dat hulle die bult sal uitkom ten spyte van die reuse-uitdagings.
Hy sê hulle werk hard om die CP Nel-museum op 10 Maart as ’n proeflopie te open.
“Dit gaan moeilik wees om slegs met gedeeltelike personeel en sonder fondse die museum te bedryf, maar ons open op 10 Maart om die werkswyse te toets en te oefen.”
Hy sê dat die Le Roux-dorpshuis in Hoogstraat wat ook deel van die museum is, ongelukkig nog nie oopgestel kan word nie.
“Ons het eenvoudig nie die finansies of die personeel nie en daar is ook baie werk wat nog gedoen moet word.”
Nadat Die Hoorn Maandag op sosiale media berig het oor die vrywilligers wat ingespring het, het verskeie ander inwoners ook intussen hulp aangebied. “Dit is ongelooflik hoeveel mense bereid is om te help om die museum weer oop te kry.
Daar is selfs sakemanne wat hand in die sak gesteek het en byvoorbeeld betaal het vir ruite om vervang te word,” het Labuschagne gesê.
Die CP Nel- museum moet ook gereed gemaak word vir die KKNK wat groot spasies huur en ’n welkome inkomste sal lewer. Volgens Labuschagne is hulle dringendste uitdaging tans om voor die KKNK fondse te bekom om die vier opleidingswerkers wat in diens is, te betaal gedurende die
KKNK en totdat hulle kontrakte op 31 Maart verstryk.
Nadat hulle kontrakte verstryk het, sal daar geen personeel in diens van die museum wees nie.
’n Aanstellingsproses van personeel sal deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport gevolg word, maar dit is nie duidelik wanneer nuwe personeel in diens sal wees nie. Intussen is die museum afhanklik van vrywilligers. (HANNES VISSER)
Lig aan einde van museum-tonnel

Be the first to comment on "Lig aan einde van museum-tonnel"