Leiwaterkanaal eis weer ’n slagoffer

‘n Forensiese ondersoeker op die kanaalwal Saterdagmiddag nadat ’n vierjarige seun in die kanaal geval en verdrink het. Foto: Angelique Erasmus

DIE liggaam van ’n vierjarige seun van Bongolethu in Oudtshoorn, Christopher Solomons, is Saterdag omstreeks 13:35 uit ’n leiwaterkanaal naby die brug op die N12 op pad George toe gehaal. Dié brug is net buite Oudtshoorn geleë.

Volgens lt-kol Malcolm Pojie, woordvoerder van die Wes-Kaap Polisie, het Christopher saam met ’n maat by die kanaal gespeel toe hy ingeval het.

“Hy het naby Black Point in Bongolethu in die sementkanaal beland, en weens die hoë sykante van die kanaal kon hy nie daarin slaag om uit te klim nie en het waarskynlik verdrink,” het Pojie gesê.

Nooddienste het Christopher se liggaam uit die water gehaal. ’n Forensiese nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood te bevestig.

Volgens Leon Campher, gemeenskapsleier en raadslid, wat die ouers kort na die voorval besoek het, het Christopher se pa, Christo Manewick, al langs die kanaal se wal afgehardloop tot waar sy seun se liggaam teen ’n sif by die brug vasgespoel het en gehelp om hom uit die water te haal.

Die kanaal vervoer water vir besproeiing vanaf die Stomp­driftdam tot in die Calitzdorp-omge­wing.

Die Stompdrift Kamanassie Watervereniging het verlede week waarskuwings uitgereik dat water uit die damme in die kanaal losgelaat gaan word en mense versoek om nie naby die kanaal te kom nie en kinders daar weg te hou.

Christopher se dood is nie die eerste in die kanaal nie en talle inwoners van die streek het hulle die week tot sosiale media gewend om hul kommer uit te spreek oor die gevaar van die kanaal so naby aan huise.

Rudicia (Janalene) Gelant (9) het verlede jaar op 26 April ook in die kanaal verdrink nadat sy by Dysselsdorp in die water geval het. Haar liggaam is sowat 15 km verder gekry waar dit teen een van die siwwe vasgespoel het.

Christopher word Saterdag om 10:00 begrawe. Meer besonderhede was nie teen druktyd beskikbaar nie. (Deur Angelique Erasmus)