Le Roux Dorpshuis oop vir besoekers

Die geskiedkun-dige Le Roux Dorpshuis in Hoogstraat. Foto: Die Hoorn Argief Onder: Blackie Ba-denhorst by binne-deure met kleurvolle loodglas-vensters. Heelonder: Die waterskade wat in die hoofslaapkamer aangerig is. Foto’s: Hannes Visser

Danksy vrywilligers se ondersteuning, kon die Le Roux Dorpshuis in Hoogstraat net voor die KKNK oopgestel word.

Die huis is deel van die CP Nel-museum en was vir ’n lang ruk gesluit a.g.v bestuurskwessies by die museum.

Die goeie nuus is dat die museum se raad van trustees en Vriende van die museum dag en nag gewerk het om eers die CP Nel-museum en nou ook die Le Roux Dorpshuis oop te stel.

Dié huis het antieke meubels van die vorige eeu en ’n besonderse argitektuur met pragtige loodglasvensters. Herman Labuschagne, voorsitter van die raad van trustees, het hierdie week gesê: “Die Dorpshuis sou vir veel langer gesluit gewees het weens ’n gebrek aan fondse en ’n gebrek aan personeel, maar die 82-jarige Blackie Badenhorst, met 41 jaar museumervaring het haar dienste gratis aangebied om die museum tydelik te bestuur.

Verskeie vrywilligers en lede van Vriende van die Museum, ondersteun haar. Afriforum het ook waardevolle hulp verleen om die tuin skoon te kry en hope en hope rommel te verwyder.”

Die Hoorn het die Le Roux-huis hierdie week besoek en dit is verstommend om te sien wat Blackie en die vrywilligers tot dusver uitgerig het. Die groot uitdaging wat die museum tans in die oë staar is dringende onderhoudswerk nadat onderhoud vir etlike jare nie gedoen is nie. Een slaapkamer het byvoorbeeld groot waterskade opgedoen omdat geute verstop was en die water deur die plafon ingeloop het.

Dit blyk dat die vorige bestuur bloot die kamer toegemaak het en nie eens meubels en voorwerpe weggeskuif het om waterskade te voorkom nie. Daar is ook strukturele skade aan een gewel van die huis wat dringend aandag verg.

Volgens Blackie het sy haar voorgeneem om in diens te bly totdat daar genoeg geld ingesamel is om die groot skade in die slaapkamer te herstel. Die Le Roux Dorpshuis is beslis ’n besoek werd en is daagliks, behalwe Sondae, oop.

Besoekers word gevra om donasies te gee wanneer hulle die geskiedkundige huis besoek. Belangstellendes wat by die museum betrokke wil raak kan Herman Labuschagne (082 800 8621) of Carol Jael (083 268 6708) kontak. (HANNES VISSER)

Be the first to comment on "Le Roux Dorpshuis oop vir besoekers"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*