Wat tans presies by Coronation Memorial Versorgingsoord vir Bejaardes, in Bridgton aan die gang is, is ’n vraag wat na weke se ondersoek, steeds meer vrae as antwoorde laat.
Besorgde inwoners, familielede van inwoners en lede van die publiek het Die Hoorn reeds ’n geruime tyd terug gekontak en verskeie bewerings gemaak, veral oor die huidige bestuur van die oord.
Die eerste klagte spruit uit ’n opdrag wat Xavier Appels, wat vroeër vanjaar as onder-voorsitter gekies is, maar tans as voorsitter en bestuurder van die oord optree, opdrag gegee het dat een van die vleuels ontruim moet word omdat daar ’n ”hospice” in daardie vleuel opgerig gaan word.
Volgens Appels was die idee om ’n “hospice”- vleuel oop te maak, voor hy oorgeneem het al in die pyplyn, en kom die initiatief vanaf die Departement van Sosiale Ontwikkeling.
Die inwoners is in Juniemaand mondelings in kennis gestel dat persone wat in die kamers bly, waar die beplande vleuel oopgemaak moet word, hul kamers moet ontruim teen die einde van Oktober. Appels het ook tydens sy besoek aan Die Hoorn se kantoor vertel dat hulle huisreëls voorsiening maak dat hul inwoners kan skuif as dit nodig is.
Die Hoorn is in besit van die huisreëls. Die huisreëls maak egter wel daarvoor voorsiening in punt 19, maar lees as volg. “Indien ’n inwoner se gesondheidstoestand dit vereis dat hy/sy verwys moet word na die siekeboeg, gemeenskap gesondheidsentrum of hospitaal of enige ander mediese hulp, moet aan die bevinding gehoor gegee word, selfs as hy/sy verskuif word van een afdeling na ’n ander.”
Terugvoer is ontvang vanaf Esther Lewis, hoof-kommunikasiebeampte van die Departement van Sosiale Ontwikkeling, en sy het die navraag na die Departement van Gesondheid verwys. Sy het wel in haar antwoord gesê dat alle die operasionele bestuur – insluitend infrastruktuur besluite deur die bestuur en direksie van die fasiliteit geneem word.
Die vraag is toe aan die hoof-kommunikasiebeampte vir die Eden en Sentrale Karoo Distrik van die Departement van Gesondheid, Nadia Ferreira gestuur en die volgende terugvoer is ontvang.
“Die bestuur van Coronation-ouetehuis het ons genader want hulle beoog om ’n palliatiewe sorg- area te open by die ouetehuis. Hierdie is ’n inisiatief van Coronation-ouetehuis en nie van die Departement se kant af nie.”
Die Hoorn het verskeie kere vir die bogenoemde dokumentasie aangevra en is verskeie kere belowe dat dit ge-e-pos sal word, maar is met die laaste oproep meegedeel dat die spesifieke dokumente wat oor die kwessie handel nie meer aan ons gestuur gaan word nie.
Die inwoners wat uit die vleuel geskuif is moes van hul besittings verkoop omdat daar nie plek in die nuwe kamers daarvoor was nie.
Tans bly daar 3 persone, ’n bejaarde man en twee blinde mans.
Die definisie van ’n “hospice” is ’n plek wat fokus op die palliatiewe versorging van ‘n terminaal siek pasiënt. Daar word aandag aan hul pyn en aan hul emosionele en geestelike behoeftes aan die einde van die lewe geskenk. “Hospice”-sorg prioritiseer gemak en lewenskwaliteit deur pyn en lyding te verminder.
Intussen het inwoners en lede van die publiek op Maandag 13 November, die huidige bestuur, Appels, Bernie Herold en Caroline Jansen uit die perseel gesluit en is Die Hoorn genader om met inwoners te gaan praat. Van die bewerings wat aan Die Hoorn gemaak is sluit in die kwaliteit en kwantiteit kos was inwoners ontvang.
Daar word ook beweer dat die voertuig wat vir die oord se gebruik aangeskaf is om inwoners na afsprake te neem by klinieke op gereelde basis nie beskikbaar is nie, en deur die bestuur gebruik word.
Nog bewerings is dat persone nie meer op die perseel toegelaat word nie, en dat inwoners wat opgelaai word, tot buite die hek moet gaan, wat moeilik is veral vir bejaarde persone wat moeilik loop of selfs in rolstoele is.
Na afloop van Die Hoorn se besoek, het die bestuur by Die Hoorn se kantoor gewag om hul kant van die saak te stel en het van die probleme aangespreek. Hul was dieselfde dag by die polisie om weer toegang tot die perseel te kry.
Die kos wat daardie Maandag in die kas, yskaste en vrieskaste was, was nie genoeg kos om al 61 inwoners tot die Woensdag te hou nie. Daar word beweer dat die kos wat vir die week vooruit gekoop word, gesteel word. Die kamerastelsel wat daar is, werk nie.
Die badkamers is ook in ’n bedenklike toestand met slegs ’n handjievol toilette wat nog toiletrame het, teëls wat gebreek of vermis is in storte en ook verskeie kaste en deure wat nie handvatsels het nie.
Sommige beddens het nie matrasse nie, of die wat wel daar is, is oud en in ’n slegte toestand.
Verskeie kennisgewings en briefhoofde in Die Hoorn se besit en wat ook op mure opgeplak is by die oord, maak gebruik van beide die NPO en NPC nommers.
In Maart is die nuwe raad verkies, tydens ’n stemming, Calvin Gertse is toe as voorsitter aangewys. Volgens Appels het Gertse die bankkaart van die versorgingsoord by Herold geneem en die bankkaart gebruik om persoonlike uitgawes te betaal.
Daar is toe ’n klag teen Gertse gemaak, en is daar ook ’n interdik teen Gertse uitgeneem. Hy mag nie die perseel betree nie. Volgens Appels maak die konstitusie voorsiening dat die ondervoorsitter dan oorneem as voorsitter. Die konstitusie wat in Die Hoorn se besit is, lig die volgende uit.
Punt 6.2.2.4 sê dat ’n lid van die beheerraad moet sy pos ontruim sou hy of sy skuldig bevind word aan enige misdryf weens ’n daad van oneerlikheid of geweld. Sover kon Die Hoorn nie vasstel of Gertse intussen skuldig bevind is aan enige van die bogenoemde klagtes nie. Die Hoorn het nie vanaf die bestuur die konstitusie ontvang soos aangevra nie, maar het wel een by ’n ander persoon ontvang.
Volgens Appels moes daar verskeie beleide en prosedures in plek gesit word vanjaar wat nie voorheen in plek was nie, en is ’n maatskappy in George met die naam SEESA aangestel wat al hulle arbeidskwessies hanteer.
Nog een van die redes wat Appels aanvoer waarom dit swaar gaan by die oord is omdat hulle skuld van die vorige bestuur moet afbetaal, soos bv. R11 000 per maand aan ’n prokureur, asook R60 000 ’n maand aan die munisipaliteit. Die munisipaliteit het volgens hom reeds skuld van R500 000 afgeskryf.
Die Hoorn het al verskeie afsprake met Appels gemaak om die kwessies te bespreek, maar het tot op datum nog geen inligting ontvang waarvoor daar herhaaldelik telefonies, op skrif en per WhatsApp gevra is, sodat die koerant die vrae aan die bestuur kan stel tydens die afspraak, so kon nog geen afspraak van Die Hoorn nagekom word nie.
Die Hoorn het ook intussen verneem dat van die inwoners in die proses is om beskermsbevele teen Appels te kry.
Wat egter die waarheid is, of wie te blameer is vir wat presies daar aangaan bly steeds ’n raaisel, maar dit is duidelik dat dringende aandag en hulp aan die probleme en kwessies geskenk moet word.