Katy le Roux, die skoolhoof van Katterjakkertjies Kleuterskool in Smartietown, is moedeloos na daar verlede Donderdag in die vroeë oggendure vir die soveelste keer by die skool ingebreek is.
Le Roux sê dat dit die derde keer in ’n paar weke was dat daar by die skool ingebreek word. ’n Splinternuwe stoof wat hulle as skenking ontvang het, is van alle elektriese bedrading gestroop. Die yskas se drade en motor is gestroop en twee gasstowe is ook gesteel.
“Die ander kere wat hulle ingebreek het, is al die kragdrade gesteel. Selfs die skryfbehoeftes, lamineermasjien en die speelarea se apparaat is gevat,” het Le Roux aan Die Hoorn gesê.
Volgens haar weet sy wie die skuldige is en alhoewel sy en haar seun die gesteelde goedere uit die man se huis gaan haal het, het die polisielede wat op die klagte gereageer het vir haar gesê hulle kan nie die verdagte in hegtenis neem nie aangesien daar nie genoeg getuienis teen hom is nie.
Die kleuterskool het 92 leerders wat wissel van babas van ’n paar maande tot kleuters van 6 jaar.
Die kinders moes egter Donderdag huis toe gestuur word aangesien die polisie vingerafdrukke moes neem.
Die kleuterskool is een van die skole wat deur die Klein Karoo Vroeë Kinderontwikkelingsforum (KKVKF) bestuur word wat uit ses lede bestaan. Sarie Suman, voorsitter van KKVKF, sê dat dit vir hulle hartverskeurend is om elke keer te verneem van die inbrake en dat geen arrestasies in verband daarmee plaasvind nie.
“Die skuldiges word uitgewys, maar volgens die polisie is daar nooit genoeg bewyse teen hulle nie, wat veroorsaak dat die diefstalle maar net aanhou.” Sy sê verder dat daar weekliks by al die skooltjies ingebreek word. Tans sit hulle met skole wat geen kookgeriewe of enige krag het nie, wat daartoe lei dat die skoolhoofde kos by die huis moet kook om toe te sien dat die kinders twee etes per dag ontvang.
Die skooltjies wat die meeste deurloop is Katterjakkertjies, Dassie Voorskoolse Sentrum en Sonneblom Kleuterskool.
Dié skole is afhanklik van subsidies en fondsinsamelings, maar die fondse moet heeltyd gebruik word om die skade wat deur die inbrake gelaat word, te herstel. Dit veroorsaak dat daar geen fondse oorbly om opvoedkundige toerusting vir die kinders aan te skaf nie.
Suman smeek by die inwoners wat rondom die skooltjies woon, om hulle oë oop te hou en bedag te wees op enige kriminele optredes. “Help ons asseblief om hierdie inbrake te bekamp. As julle verdagte mense by die skole sien, bel asseblief die polisie sodat hierdie aaklige optredes gestop kan word,” is haar smeekroep aan die publiek.
Intussen het Die Hoorn verneem dat ’n verdagte wel gearresteer is en dat vingerafdrukke hom verbind met die vorige inbrake.
Na hierdie onaangename gebeure is daar ’n positiewe nadraai vir Katterjakkertjies Kleuterskool. Wayne Julies, ’n weldoener wat naby die skool woon, het hom daartoe verbind om ’n weeklikse skenking te maak.
“Ek sal elke week pap, macaroni, rys en vis vir die kleuterskool skenk,” het hy aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)
Katy le Roux, die skoolhoof van die kleuterskool wys aan Die Hoorn waar die drade van die stoof en motor van die vrieskas (agter haar) gesteel is.
Alle kragdrade, is van die mure gesteel. Daar is tans geen krag op die perseel nie.