Klein Karoo maak hul X

Regs staan Wynand du Plessis (91) by sy vrou Issie du Plessis (85). Die egpaar het Woensdag hul kruisies gaan trek by NG Kerk Welgeluk se stemlokaal op Oudtshoorn. Du Plessis is die oudste manlike lidmaat van hierdie gemeente. Foto verskaf

Op Woensdag 29 Mei 2024, het Suid-Afrika se inwoners aan die 7de nasionale verkiesing deelgeneem. In die Klein Karoo het inwoners van ons mooi area ook hul kruisies gaan trek by die 38 stembusse.

Dit blyk uit kommentaar en persoonlike ondervinding van Die Hoorn se personeel, dat meeste se ervarings positief was. Meeste kommentaar op Die Hoorn se Facebookblad vertel van ’n vinnige en vlot stemproses, kort rye en vriendelik personeel wat vir die OVK (onafhanklike verkiesings- komitee) werk.

By stemlokale waar die rye wel langer was, blyk dit dat die kiesers se gemoed goed was, en daar heerlik in die rye gekuier en gesels is.

By die De Jager Sportkompleks het selfs ’n braaivleisvuur by een van die partye se Gazebo’s gebrand, waar heerlike boereworsrolle gebraai en dit aan mede-partye en kiesers uitgedeel is.

Daar was ook koffie en tee om die dors te les vir diegene wat bietjie langer in die tou moes staan.

Op Ladismith is spesiale vermaak vir die kinders gereël deur ’n plaaslike besigheid terwyl die ouers hul kruisies getrek het. Jeneilton Ambros berig dat die Flink-egpaar gesorg het vir lekker musiek en rymkletsers, waarop die kinders gedans het en opvoerings deur ’n drama- en dansgroep. Kinders kon na hartelus op die springkasteel rondspring terwyl kinders se gesigte geverf en hul hare ook met kleurhaarsproei gespuit is.

Daar was drie stembriewe nasionaal (blou), provinsiaal (pienk) en streek (geel/oranje).

Stemme op die blou stembrief is vir die 200 setels beskikbaar in die parlement vir die verskeie partye. Die pienk stembrief was vir die provinsiale wetgewer en vanjaar se nuwe stembrief, in Geel/Oranje was vir die streek, maar dit was vir die ander 200 setels in die parlement vir partye en onafhanklike kandidate.

Hou Die Hoorn se Facebook-blad dop vir die nuutse uitslae.

’n Plaaslike dansgroep vermaak kinders in Ladismith, terwyl hul ouers by die stembusse was. Foto: DJ Tinny Photography

Oudtshoorniete staan geduldig in die ry by Hoërskool Oudtshoorn. Foto: Amanda Leigh Pieterse

Oudtshoorn se uitvoernde burgemeester Chris Macpherson het Maandag reeds sy stem geplaas. Foto: Heinrich Bosman

Joernaliste van Die Hoorn het ook hulle merk gaan maak.
Foto:
Die Hoorn

Be the first to comment on "Klein Karoo maak hul X"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*