


Kinders, inwoners en selfs bejaardes van die Klein Karoo is die afgelope twee weke uit hul sokkies bederf by verskeie Kersfeesvieringe. Die Kersfeesgees loop hoog.
Tydens die Rotariërs se jaarlikse beertjie-projek is meer as 700 beertjies, en 750 Krismisbokse die afgelope twee weke by 16 kleuterskole in en om Oudtshoorn uitgedeel. Hierdie is die 13de jaar wat hul hierdie projek behartig. Kersvader het op sy ysterperd by die kleuterskole besoek afgelê om self elke geskenkie aan sy spesiale gaste uit te deel. Die Hoorn het Maandag by Nomonde Kleuterskool in Bongolethu saam met die kinders en Kersvader gaan kuier.
Die skool is die afgelope jaar teen ’n koste van meer as R1,1 miljoen opgegradeer. Dit was ’n projek van Oudts-hoorn Rotariërs en word steeds deur die instansie ondersteun.
Kersvader, ook bekend as Sinterklaas, het verlede Vrydagmiddag met loeiende sirenes ook by St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton gaan kuier. Daar het ongeveer 1 000 kinders met groot opwinding vir die man in sy rooi pak gewag.
Elkeen is bederf met ’n yskoue ysie teen die dag se hitte, waarna ’n oulike Kersspel deur lede van die jeuggroep opgevoer is. Met Sinterklaas se aankoms was die opwinding in die lug tasbaar.
Elke kind het ’n spesiale pakkie ontvang en ’n worsbroodjie voor hulle huis toe is.
Daar was vroeër die dag ook ’n spesiale funksie waartydens 20 senior burgers na ’n spogtee genooi was. Hulle is deur die eienaars van die Prince Vintcent-gebou, die Vita-groep, onthaal en elkeen het ook ’n Kersgeskenk ontvang.
Die Hoorn het verlede week berig oor die Oudtshoorn Munisipaliteit se liggiefees op Sondag 30 November. Kinders vanuit Oudtshoorn en omliggende plaas- gemeenskappe soos Buffelsdrift en Schoemanshoek het so die feesseisoen afgeskop. Vanjaar het Kersvader en sy helpers sowat 1 100 pakkies aan kinders uitgedeel.
Môre (Saterdag 13 Desember) kan Dysselsdorp se kinders hul regmaak om ook bederf te word, en op 20 Desember is dit die kinders van Blomnek in De Rust se beurt om hul Kersfeesklere aan te trek. Ongeveer 500 kinders sal tydens die besoek bederf word.
Selfs Oudtshoorn se viervoetige inwoners is Saterdag met ’n Kerspartytjie bederf. Die Oudtshoorn Diereherberg het selfs genoeg geskenke ontvang dat hulle Kersvreugde met Oudts-hoorn se munisipale skut gedeel het. Selfs leerders en onderwysers van Langenhoven Gimnasium het ingespring en honde- en kattekos, asook speelgoed, ingesamel. Die items is verlede Vrydag aan dierewelsynsorganisasies in Oudtshoorn geskenk.
Enige weldoeners wat nog skenkings wil maak om iemand se Kersfees spesiaal te maak, kan met enige van die instansies kontak maak. Peadiatric Care Africa – Andre Hattingh 076 229 5663, Oudtshoorn Munisipaliteit – Demorian Morris-Appollis 044 203 3004, Oudtshoorn Rotariërs – Dalia Wilck 084 620 0977, Oudts-hoorn Diereherberg – Ansa de Jager 063 757 8633, The Cat Hotel – Lee-Ann van Sittert 083 334 0172, ODIN – Colleen Smith 072 084 1374. (ANGELIQUE ERASMUS)