KKNK weer in 2022 aangebied!

Die direksievoorsitter van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, maak die belangrike aan­kon-diging by die organisasie se 28ste alge­me­ne jaarvergadering. Foto: Garnett Wicomb

DIE direksie van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied, het besluit om die fees weer volgende jaar aan te bied nadat dit in 2020 en vanjaar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

Dié aankondiging is Vrydag deur die direksievoorsitter van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, tydens die organisasie se 28ste algemene jaarvergadering in die Queens Hotel gemaak.

“Die direksie het die bestuur die mandaat gegee vir die beplanning van volgende jaar se fees en sien uit ‘na wat die artistieke direkteur, Hugo Theart, en sy span gaan voorlê,” het Sonn gesê.

Volgens Sonn was 2021 ’n jaar van innovasie en gematigde risiko vir Kunste Onbeperk.

“Met die oog daarop om werk vir kunstenaars te skep, gehore te vermaak en ’n rol te speel om ons bedryf in sy donker uur te bevorder, het ons nuwe inisiatiewe aangedurf, ou inisiatiewe anders probeer aanpak, en harder gewerk om te doen wat ons nog altyd gedoen het – naamlik om goeie kunste aan gehore te bied,” het Sonn gesê.

“Kunste Onbeperk het van ons produksies begin verwerk om op nuwe digitale maniere aan te bied. Dit het ons die geleentheid gebied om ’n wyer mark te bedien en om nuwe inhoud te vervaardig, in meer tale as Afrikaans.”

Volgens Sonn kon die gemeenskap van Oudts­hoorn ook die afgelope jaar betrek en bederf word by die aanbieding van die Teksmark in die Oudts­hoorn Burgersentrum. “Die verdere ontwikkeling van die kunste op Oudtshoorn is lank reeds ’n begeerte van die fees. Vanjaar het nuwe geleent­hede en nuwe uitdagings gebied en ons kan met trots sê ons is tot dusver daardeur sonder dat ons visie vir die kunste verdof het.”

Hy het gesê die volgehoue ondersteuning van die fees se borge soos Absa, Media 24, die Oudts­hoorn Munisipaliteit en die Het Jan Marais Fonds het dié projekte moontlik gemaak.

Sonn het die fees se ondersteuners en gehore bedank wat ondanks die feit dat die fees vir twee jaar nie aangebied kon word nie, steeds die KKNK ondersteun en aanspoor om meer en beter te doen.

“Die kunste word bedryf deur professionele kunstenaars wat doen waarvoor hulle lief is, ten spyte van die opoffering wat dit verg. “Ons is dankbaar vir elkeen van hulle. Hulle is die hartklop van ons bedryf en sonder hulle talent, visie en geloof, is niks wat ons doen moontlik nie.”

Volgens Sonn moet dit nie uit die oog verloor word dat die KKNK ’n fees vir almal is nie.

Theart het in sy oorsig gesê dit was die jaar belangrik om deurdagte projekte aan te pak wat óf in sameweking met vennote aangebied kon word, óf inkomste kon genereer.

Die digter Daniel Hugo het voorts tydens die vergadering hulde gebring aan een van die stigters­lede van die fees, Pieter Fourie, wat op 12 September vanjaar oorlede is.

• Klein Karoo Klassique is die naweek van 27 en 28 November terug op Oudtshoorn. Volg skakel vir die berig: https://www.diehoorn.com/nuus/klein-karoo-klassique-is-terug/ (Deur Garnett Wicomb)