Oudtshoorn het Sondagaand, 1 Desember, vir die eerste keer in etlike jare weer ’n ware Kersliggiefees gehad. Die gedeelte van Langenhovenweg voor die munisipale gebou is Sondagmiddag afgesper, ‘n verhoog met klankstelsel is opgerig en verskeie kosstalletjies is ook vir die geleentheid opgeslaan.
Morné Pieterse van EdenFM was die programbestuurder wat musikante, kore, orkeste en dansers voorgestel het. Daar was waarskynlik meer as 1000 mense wat vanaf 17:00 begin byeenkom het. Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, het aan Die Hoorn gesê as kind was Kersliggies en Kersvader vir hom iets groots om na uit te sien. “Dit is wat ons graag hier wil doen, om Kersfees veral vir die kinders, weer spesiaal te maak.”
Die liggies is om 20:00 aangeskakel waarna Kersvader op ‘n rooi brandweerwa opgedaag het. Daarna was daar groot opgewondenheid toe Kersvader en sy helpers meer as 700 geskenkpakkies aan kinders oorhandig het. (HANNES VISSER)