

Klein Karoo Saad (KKS), in Oudtshoorn, het tydens hul erkenningsgeleentheid ’n allemintige bedrag van R403 200 vir Vygieshof Tehuis, in Calitzdorp, ingesamel.
Die bedrag is op hul kuieraand, op Donderdag 2 Oktober, ingesamel. Bekende TV-persoonlikheid, Hamilton Wessels van Toks en Tjops, het as afslaer en seremoniemeester opgetree.
Boere het nie net hul harte oopgemaak met pryse nie, maar ook hul beursies om die tehuis te ondersteun. Die tehuis het plek vir 60 inwoners, wat 49 geriatriese sorg en 11 woonstel-eenhede vir selfversorgende persone insluit.
Hierdie is ook Vygieshof se 59ste bestaansjaar wat op 1 Desember 1966 ingewy is.Vygieshof word befonds uit losiesgelde, staatsubsidies, donasies en fondswerwing. Meer as 60% van die inwoners is deernisgevalle, wat nie die volle losiesgeld kan bekostig nie, en daarom maak hul staat op fondse van donateurs en fondsinsamelings.
Enige vorm van donasies is welkom, soos die skenk van kos, klere, linne, toiletware of selfs lekker bederfitems soos lekkergoed vir die tehuis se winkel.
KKS het ’n nood by die tehuis geïdentifiseer. Daar bestaan ’n tekort aan gehaltesorg vir bejaardes wat elke jaar moeiliker word, en daarom het hul besluit om by die tehuis betrokke te raak.
Hul proefplaas, Besemkop, is ook net buite Calitzdorp geleë. Geraldine en Riaan Pretorius, die bestuurders van die tehuis het die aand bygewoon.
Hulle was emosioneel tydens hul toespraak en het gesê dat dit nog die meeste geld is wat op een slag aan die tehuis geskenk is.
Hulle gaan die geld onder andere aanwend om nuwe matrasse vir die inwo-ners te koop. Volgens Pretorius sal die res van die geld gebruik word om baie gaatjies wat die afgelope aantal jare ontstaan het, mee te vul.
“As KKS is ons trots op die bydrae wat ons met die hulp van ons produsente aan die Calitzdorp gemeenskap kan maak,” sluit Malan af. (ANGELIQUE ERASMUS)