Kannaland: DA en Icosa wil leiers vervang; onstabiliteit en dienslewering takel

’n Nuwe speaker, burgemeester, onderburgemeester en waarnemende munisipale bestuurder vir Kannaland sal waarskynlik vandag tydens ’n spesiale raadsvergadering op Ladismith verkies word. Dit volg nadat vier van Kannaland se sewe raadslede die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, die week genader het om hul by te staan om ’n raadsvergadering vir vandag te belê.

Volgens die vier raadslede – Aletta Steenkamp (DA) en Icosa se Jeffrey Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters – gaan Kannaland tans gebuk onder politieke onstabiliteit, en kan die vergadering dit beëindig. Die begrotingsproses in die raad het ook nog nie begin nie wat tot ’n agterstand in dienslewering kan lei. Munisipale begrotings vir die volgende boekjaar wat op 1 Julie afskop, moet teen einde Mei afgehandel wees.

Die vier raadslede het Dinsdag die speaker van Kannaland, Rodge Albertus (Kannaland Independent Party), skriftelik versoek om die vergadering te belê. Hulle het hulle op die Kannaland Munisipaliteit se ordereëls beroep wat bepaal dat die speaker ’n raadsvergadering moet reël indien ’n meerderheid raadslede hom/haar skriftelik versoek. Albertus het egter slegs die groen lig gegee vir ’n vergadering oor ’n week – Vrydag 13 Mei, waarna hulle hul tot die Wes-Kaapse regering gewend het.

Provinsiale steun vir Kannaland is ook een van die agendapunte.

Die vergadering sal om 12:00 plaasvind. (Deon Meyer en Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Kannaland: DA en Icosa wil leiers vervang; onstabiliteit en dienslewering takel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*