Inwoners klim in om skoon te maak

Johan Conradie (regs), voorsitter van die Oudtshoorn Afriforum-tak, en ’n span werkers Dinsdag in Parkweg op Oudtshoorn, waar hulle sedert Maandag sypaadjies en verkeerseilande skoon en netjies gemaak het. Foto: Stefan Skapie Goosen

VERSKEIE groepe op Oudtshoorn het die laaste tyd ingespring om sypaadjies, strate en oop ruimtes in die dorp skoon te maak. Daar word nie net bossies uitgeskoffel en netjies gemaak nie, maar ook rommel opgetel wat hul mede-Oudtshoorniete neergooi.

Die AfriForum-tak op Oudtshoorn het vandees­week ingespring om die dorp skoon en netjies te maak.

Hul doel is nie net om inwoners betrokke te maak by die proses nie, maar ook om bewusma­king te kweek dat dit almal se verantwoordelikheid is om Oudtshoorn skoon te hou, sê Johan Conradie, voorsitter van die Oudtshoorn-tak.

AfriForum het Maandag (14 Februarie) met ’n span werkers wat deur die organisasie betaal word in Rademeyerstraat langs die skouterrein afgeskop. Dinsdag en Woensdag het hul fokus op Parkweg geval. Conradie sê die doelwit is om die hele Parkweg skoon te maak tot waar dit by Noordstraat aansluit deur bome te snoei, bossies uit te trek en rommel om te tel.

Volgens Conradie het inwoners van Palmoord reeds hand bygesit in Parkweg.

“Hulle doen dit op hul eie, maar hulle is wel lede van AfriForum. Dan beoog ons ook om voor die NA Smit Swembad skoon te maak. Dit sal in die nabye toekoms gebeur.”

Conradie sê AfriForum het dié projek begin het omdat die organisasie graag iets wil doen vir die gemeenskap, “maar ook omdat die munisipaliteit nie hande het om dit te doen nie. Ons het sulke skoonmaakveldtogte minstens drie keer per jaar.”

Conradie sê hy hoop hul veldtog sal inwoners positief beïnvloed.

“Daar was reeds baie mense wat dit raakgesien het. Dinsdag het mense stilgehou en vir ons koeldrank gebring en dankie gesê. Ek dink dit sal hopelik eskaleer, beter raak, en meer mense sal be­­trokke raak.

“Dit is juis wat ons wil hê, nie net betrokkenheid van AfriForum nie, maar betrokkenheid van die hele gemeenskap. Mense hoef nie lede te wees om betrokke te raak nie.”

Volgens Conradie beoog AfriForum ook om die ingange na die dorp skoon te maak voordat vanjaar se KKNK begin.

Een van die partye in die raad, die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), is ook reeds gerui­me tyd in die warm somerhitte betrokke by skoonmaak- en opknapprojek­te – by huise, by kerke, in strate.

So skryf Oudtshoorn se OGI-raadslid, Colan Sylvester, onlangs op Facebook: “Inwoners van Blackjoint het vandag in weersomstandighede van meer as 37 grade Celsius hand aan die ploeg ge­slaan en ’n skoonmaakprojek aangepak en afgehandel. Baie dankie aan hierdie span vir die wonderlike poging. Ons oproep aan die gemeenskap is om onwettige storting te help voorkom en ’n skoon gesonde omgewing daar te stel.”

Nog ’n groep wat hard werk in die dorp is die Helping Hands Community Projects Oudtshoorn wat vandeesweek in die Oudtshoorn Begraafplaas ingespring het.

Emile Cupido, wat betrokke is by dié groep, sê hy is dankbaar vir almal wat betrokke geraak het en “uit hul pad gaan om Oudtshoorn weer ’n dorp te maak waarvan ander met trots kan praat.”

Hoe kan inwoners help?
Die Hoorn het einde verlede jaar heelwat reaksie gekry na die plasing van ’n redakteursbrief oor rommel wat deur ons inwoners rondgegooi word, getitel Dis ons eie mense wat die rommel strooi… (Volg die skakel hier om dit te lees: https://www.diehoorn.com/mening/redakteursbrief-dis-ons-eie-mense-wat-die-rommel-strooi/)

Baie mense het voorstelle ingedien en almal se boodskap was dieselfde: Ons sien nie kans om in ’n vuil dorp te woon nie en is bereid om op die een of ander manier te help.

Raak betrokke en help so:
• Hou dit buite jou eie blyplek of besigheid skoon – die sypaadjie, enige watervoor en straat wat verbyloop.

• Kan jy dalk jou buurman of buurvrou help as hulle om die een of ander gesondheidsrede of hoë ouderdom nie self voor hul blyplek kan skoonmaak nie.

• Sê dankie vir die wat help, ook die individue wat vrywillig loop en ander se rommel in strate, op sypaadjies en in die veld optel. Hulle optrede inspireer ons almal.

• En onthou, ook mense wat swartsakke vol gemors of bourommel in die veld op en om ’n dorp stort, is morsjorse met geen respek vir die omge­wing en ander mense wat die gebied gebruik nie. Plaas jou swartsak met vullis weekliks op die regte dag uit vir die munisipaliteit om te verwyder, en gaan stort jou bourommel slegs op toegewysde plekke.

• Die eerste wat verwyt word wanneer vullis rondlê, is dikwels “die mu­nisipaliteit”, maar ons verwyte is net so van toepassing op ons dorpe se eie mense wat nie die strate, sypaadjies en oop ruimtes wat almal moet gebruik, res­pekteer nie, en vullis neergooi.

Dankie vir almal wat nie neergooi nie, wat vullisdromme gebruik, wat hul vullis weekliks uitsit vir munisipale verwydering of dit na ’n stortingsterrein neem.

Dankie aan almal wat skoonmaak. (Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)