

Oudtshoorn Munisipaliteit het Sondag die Kersseisoen afgeskop met hul jaarlikse Liggiefees. Die kinders was opgewonde terwyl hulle vir Kersvader gewag het om vir elkeen ’n bederfpakkie te bring.
’n Vermaaklikheidsprogram is vooraf gereël om vir al Kersvader se spesiale gaste die aand lekker te maak.
Paul Amas het opgetree as seremoniemeester, en daar was ’n orkes wat bekende liedere gespeel het terwyl die gehoor saam gesing het.
Ranger Grebe, bekende evangelis, het ’n spesiale gebed vir kinders gedoen, en verskeie geestelike leiers van Oudtshoorn het elkeen ’n spesiale boodskap gebring.
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het tydens sy toespraak gesê dat liefde en omgee in die huis en gesin maak jou skatryk.
“Ek wens daardie omstandighede vir elke huishouding in Oudtshoorn toe tydens hierdie Kersseisoen.”
Hy het ook gesê dat die afskop van die feesseisoen nie die begin van ’n drinkseisoen is nie, maar dat dit ’n tyd is vir families om bymekaar te kom en die nuwe jaar as nuwe mense in te gaan.
“Daar moet ook vir mekaar omgegee word sodat almal om jou ook ’n geseënde Kersfees kan hê.”
Ter afsluiting het Allers almal ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar toegewens.
Daarna is die kleurvolle kersliggies aan-geskakel, en Kersvader is met loeiende sirenes deur die Oudtshoorn Brandweerdiens gebring.
Vanjaar het meer as 1 100 kinders vanuit die gemeenskap, asook plaasgemeenskappe om Oudtshoorn, geskenkpakkies ontvang.
Dit was wonderlik om te sien hoe weldoeners fondse, geskenke, vervoer en selfs petrol geskenk het om te verseker dat hierdie ’n spesiale dag vir al die kinders was en dat hulle bederf kon word. Verlede jaar is sowat 780 pakkies gemaak en uitgedeel. (ANGELIQUE ERASMUS)

Kersvader en sy helpers was almal feestelik aangetrek vir die okkasie. Foto: Facebook