Hoogste omset nog vir Klein Karoo Groep

Hier by die Klein Karoo Groep se Algemene Jaarvergadering verlede Vrydag is van links Terblanche du Plessis (besturende direkteur Klein Karoo Agri), Johannes Delport (voorsitter: Klein Karoo Eiendoms Beperk - KKEB), Christo van der Rheede, uitvoerende Direkteur Agri SA wat ook die spreker by die geleent­heid was, David Malan (besturende direkteur Klein Karoo Saadproduksie) en Pieter Barnard (KKEB-bestuur). Foto verskaf

DIE Klein Karoo Groep het met harde werk en kreatiewe inisiatiewe daarin geslaag om ondanks ’n voortslepende droogte en die uitdagings van die Covid-19-pandemie sy hoogste omset in die geskiedenis te behaal.

Johannes Delport, voorsitter van die groep, het verlede Vrydag (26 November) by die groep se algemene jaarvergadering aangedui die omset was R2 333 miljoen.

Klein Karoo Saadproduksie kon ’n aanvullende betaling van R30 miljoen aan saadprodusente doen, terwyl Klein Karoo Agri R4,7 miljoen ooreenkomstig hul lojaliteitskema aan produsente kon uitbetaal.

Cape Karoo International (CKI), die wêreldleier op die gebied van volstruisvere, -leer en -vleis, het by sy jaarvergadering die vorige week ook be­kend gemaak dat ’n aanvullende betaling van R40 miljoen aan hul produsente gedoen is gedurende die jaar onder oorsig.

CKI is gevorm toe Klein Karoo International en Mosstrich in 2019 saamgesmelt het.

Nuwe bedryfsvertakkings ondersoek
Pieter Barnard, bestuurslid van Klein Karoo Edms Bpk, het terugvoer gegee oor onder meer eien­domme van die groep en ondersoeke na alternatiewe bedryfsvertakkings waarby Klein Karoo kan betrokke raak.

Daar is aandag geskenk aan opgradering soos die bou van ’n nuwe inrypad na die groep se fasi­liteite op Oudtshoorn. Daar word ook steeds ge­sprekke gevoer oor die moontlike oprigting van ’n woonbuurt- of nywerheidsentrum op die terrein met verskeie ankerhuurders wat al belangstelling getoon het.

Daar is voorts ondersoek ingestel na alterna-tiewe produkte wat in die omgewing sal aard, waarvoor daar ’n mark is en waar die Klein Karoo Groep waarde vir die produsent kan toevoeg.

Volgens Barnard was daar groot hoop vir turks­vye wat droogtebestand is en maklik om te vestig, maar het markondersoeke en gesprekke met buitelandse kopers daarop gedui dat die mark daarvoor relatief te klein is.

Huidige ondersoeke na die verbouing van amandels lyk egter positief – ten opsigte van die kopersmark, geleenthede vir produsente en waarde wat Klein Karoo kan byvoeg.

Wat die ander ondersoeke betref, is besluit om nie daarmee voort te gaan nie – daar is reeds ten opsigte van granate genoeg bestaande kanale; ten opsigte van die droging van groente is dit eerder geskik vir ’n gebied wat dwarsdeur die jaar kan pro­duseer, terwyl die mark vir saffraan te beperk is. Daar is intussen ook besluit om water as ’n belang­rike projek verder te ondersoek omdat dit ’n groot probleem in die Klein Karoo bly.

Sterk groei en opwindende nuwe geleenthede by Saadproduksie
David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, het gesê sy hart is gebreek oor die nuwe Covid-19-variant wat tot nuwe reisbeperkings gelei het – net toe buitelanders weer begin het om Klein Karoo Saadproduksie te besoek. “Ons het die afgelope week seker so ses of sewe groepe hier gehad en dit was so lekker om hulle te kon wys wat ons doen.”

Volgens Malan het die groentesaadbedryf die afgelope jaar of twee stewig gegroei en het die pandemie daartoe bygedra. “Daar was wêreldwyd tendense dat mense by die huis kos gemaak en meer vars produkte geëet het, terwyl huistuine toegeneem het. Saadproduksie het gebaat hierby.”

Die droogte, onlangse hael en bye wat nie vanjaar so lekker soos voorheen wil werk nie, was van die bedryf se uitdagings.

Nog ’n uitdaging was die magtige Suid-Afri­kaanse sitrusbedryf wat groot druk op plaaslike hawens en beskikbaarheid van kratte plaas en waar­van die uitvoersiklus boonop direk bots met die van saad.

“Ons het uitsonderlike probleme gehad om ons produkte betyds vir die aankopers se saaiseisoen in die buiteland te kry,” het Malan gesê.

Desnieteenstaande het saadproduksie ’n goeie groeikurwe oor die laaste drie jaar getoon, wins het toegeneem en so ook die aanvullende betaling aan boere daarmee saam.

Malan het voorts meer vertel oor Agrofos, ’n wei­dingsaadmaatskappy met drie bene – kunsmis- en chemiese verkope asook weidingsaad, en wat baie belowend lyk vir die toekoms. “Ons glo dit gaan ’n baie groot aktiwiteit word in nie net Suid-Afrika nie, maar ook vir uitvoer na Afrika,” sê Malan. Die fokus hier sal val op lusern, voersorghum, raaigras en die grane.

Nog ’n fokuspunt is verpelitiseerde saadmeng­sels vir dierevoeding of as ’n dekgewas vir die verbetering van grondstruktuur of om ontslae te raak van siektes of insekte.

Trots op Klein Karoo Agri se syfers
Ter­blanche du Plessis, besturende direkteur vanKlein Karoo Agri, sê hy is trots daarop op om dié filiaal se syfers te deel en ook op wat deur die jaar bereik is.

Klein Karoo Agri bestaan uit ses handelstakke op Oudtshoorn, George, De Rust, Prins Albert, Ladismith, Beaufort-Wes, twee 24 uur-vulstasies op Oudtshoorn en Ladismith, twee meganisasie- en besproeiingstakke, en is ook betrokke by onder meer veilings, en die verkope van wapens en ammunisie.

R4,7miljoen is deur Klein Karoo Agri se unieke lojaliteitsprogram, waardeur boere ’n deel kry van die wins, aan boere uitbetaal. (Deur Liesel le Roux)