Hendricks terug na ‘onwettige’ verwydering, mét koste-implikasie vir munisipaliteit

Walter Hendricks. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE mosie van wantroue waarmee 13 van die Groter Oudtshoorn se 25 raadslede Walter Hendricks op 22 April tydens ’n raadsvergadering as waarnemende munisipale bestuurder verwyder het, was onwettig.

Dit was Vrydag (29 April) die bevinding van regter Mangcu-Lockwood in die Hooggeregshof op George. Sy het ’n dringende aansoek van Hendricks teen sy verwydering toegestaan en beveel dat die munisipaliteit hom in sy posisie moet herstel soos hul kontrak met hom vereis.

Die munisipaliteit het tot 10 Junie die geleentheid om op die regter se beslissing te reageer en aan te dui waarom hulle nie die hofkoste vir dié onwettige besluit moet dra nie.

Die 13 raadslede van die koalisie wat sedert dié vergadering die raad beheer – die ANC, OGI, die PA, Advieskantoor, Saamstaan en Good – het die mosie gesteun.

Die mosie is egter tydens die vergadering teengestaan deur die 12 raadslede van die DA, VF Plus en Icosa, volgens verteenwoordigers van dié partye juis omdat die korrekte prosedure vir die verwydering van ’n munisipale bestuurder volgens hulle nie gevolg is nie.

Raadslid Chris Macpherson (DA) het op navraag gesê hy het tydens die vergadering raadslede gewaarsku dat die pro­ses wat hulle volg om ’n munisipale bestuurder met ’n mosie te probeer verwyder, onwettig was. Volgens hom is daar ’n voorgeskrewe proses wat gevolg moet word om ’n munisipale bestuurder, wat ’n amptenaar in diens van die munisipaliteit is, te verwyder. Dit sluit onder meer ’n verslag in wat deur die burgemeester opgestel en deur die raad bespreek en goedgekeur moet word.

Ook raadslede Johan Allers (VF Plus) en Vlancio Donson (Icosa) het op navraag van Die Hoorn bevestig dat die VF Plus en Icosa nie die mosie gesteun het nie omdat die korrekte prosedure vir die verwydering van ’n senior bestuurder nie tydens die raadsvergadering gevolg is nie. (Deur Liesel le Roux)

  • Berig opgedateer.