Groot skade na fratsstorm

Bo: Die binnekant van Josef Van der Colff se motorhuis waarvan die hele dak afgeruk is. Foto: Hannes Visser Onder: Een van die talle informele huise op Volmoed wat dakloos gelaat is. Foto verskaf

Inwoners van Volmoed wat naby die kerk woon, asook inwoners van Kliplokasie het verlede Woensdagmiddag ’n nagmerrie-ondervinding gehad toe stormsterk rukwinde en hael ’n smal strook waar hulle wonings is, getref het.

Volgens die bejaarde Josef van der Colff het hy die naderende wolke en stof gesien en die volgende oomblik het groot haelkorrels die huis getref en ’n geweldige wind het sy huis se dak eenvoudig opgefrommel en met dakbalke en al afgeruk. ’n Ent van hom af kon sy dogter Madelein du Preez net-net daarin slaag om veilig in haar eie huis te kom waar sy magteloos moes kyk hoe ’n groot motorafdak en ’n buitekombuis wat hulle in die somer gebruik, totaal deur die wind verwoes is.

’n Gedeelte van die dakke wat afgewaai het, het ongeveer 50 meter verder voor die kerk se gronde beland. Nog twee inwoners met wie Die Hoorn die dag na die strom gesels het, was Henry Fourie en Piet du Toit. Fourie se huis het gelukkig geen skade opgedoen nie, maar hy het vertel dat die geweldige wind soos ’n klein tornado gedraai het en mense se eiendom in verskillende rigtings laat vlieg het.

Du Toit was buite toe die storm losbars en kon tot op sy stoep kom, maar die wind het hom verhoed om ’n deur oop te maak en hy moes die haelkorrels trotseer. ’n Gedeelte van die dak van een van sy geboue is afgeruk.

Die munisipaliteit se afdeling vir rampbestuur het Woensdagmiddag hulle hande vol gehad. Ten minste 36 strukture in en rondom Kliplokasie is beskadig of vernietig. Kliplokasie is ’n geskiedkundige woongebied waar al die huise met plat klippe gebou is. Mense wie se tydelike strukture heetemal weggewaai het, het heenkome in ’n kleuterskool gekry.

Terwyl die kitsstorm in Volmoed gewoed het, het weerlig ook kilometers verder ’n brand naby die Kango Bergoord veroorsaak. Die brand kon gelukkig deur brandbestryders geblus word voordat dit kon versprei.

Die munisipaliteit sowel as Gift of the Givers het verlede week noodsaaklikhede aan die mense van Volmoed uitgedeel.

Volgens inligting van inwoners is bome ook ontwortel, Eskom kragpale is afgeruk en heinings is platgedruk. Dit blyk dat die storm ongeveer 20 minute geduur het en slegs oor ’n smal strook sy loop geneem het. Sover vasgestel kon word, was daar geen ernstige beserings tydens die storm nie. (HANNES VISSER)