Groot hartseer toe Olga sterf

Foto bo: Olga Minnie soos baie haar onthou, met haar brilletjie op haar kop. Foto onder: Olga en John Minnie op hul troudag in 2013 Foto heelonder: Olga se kinders en kleinkinders was haar lewe. Hier is sy saam met haar dogter Charmaine en vier kleinkinders wat in Oudtshoorn woon, voor hul winkel Bushman Curios. Foto’s verskaf

DIE nuus oor die ontydige dood van Olga Minnie (65), bekende Oudtshoorniet en besigheidseienaar van Bushman Curios, in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn, het menige inwoner Saterdag geskok.

Olga en haar man John was op Saterdagmiddag 13 Mei 2023, omstreeks 17:30 in ’n motorongeluk, op die hoek van Baron van Reede- en St Saviorstraat, voor hul besigheidsperseel betrokke.

Sy is Saterdagmiddag 20 Mei, ’n week na die ongeluk, net voor 13:00 oorlede.

Die Minnies het ook op die perseel gewoon en was waarskynlik op pad huistoe. Hulle het regs gedraai, toe hul voertuig, ’n blou Toyota Rav 4 op die passasierskant deur ’n maroen Volkswagen Jetta getref is.

Albei is deur nooddienste na die Oudtshoorn Hospitaal geneem, en later die aand na George Hospitaal oorgeplaas.

John is egter die volgende dag (14 Mei 2023) na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, en Olga terug na die Oudtshoorn Hospitaal.

Volgens ’n betroubare bron is hy steeds kritiek en in die Intensiewe Sorg Eenheid (ISE), onder sedasie, maar in ’n stabiele toestand.

“Dit was vir ons ’n groot skok toe die hospitaal ons bel en se my ma is oorlede,” vertel Charmaine Stander, Olga se dogter aan Die Hoorn.

Stander sê dat dit Vrydag beter met haar ma gegaan het, en hulle kon haar bederf deur haar naels te verf met naellak en handeroom smeer. “Sy het vir ons gekyk as ons met haar gepraat het, en selfs haar kop geknik as ons haar iets gevra het,”

Haar ma was ’n omgee mens, besorg oor haar familie en vriende het gereeld gevra of almal OK is, “seker omdat sy die oudste van sewe kinders was, en altyd almal gehelp het, was dit nou met verblyf, werk soek of net seker maak iemand het iets om te eet”

Olga, oorspronklik vanaf Nylstroom en later die Wildtuin, het in 1999 na Oudtshoorn getrek. Haar dogter onthou dat hulle gereeld voor dit na Oudtshoorn gekom het om vir vriende van haar ma hier te kom kuier.

“My ma het so baie van Oudtshoorn gehou en besluit om te trek en ’n Curio winkel oop te maak omdat dit nie net ’n toeriste dorp is nie, maar ook ’n plaasgevoel gehad het.” Olga het op die dorp en die atmosfeer verlief geraak.

In 1999 het sy Bushman Curios oorkant die Spur oopgemaak, en in 2000 is die perseel op die hoek van Baron van Reede- en St Saviorstraat gekoop en ’n tweede tak geopen.

Sy en John is in 2013 getroud en sou later vanjaar op 13 Oktober hul 10de huweliksherdenking gevier het.
Olga laat ’n groot leemte in soveel mense se lewens, veral vir haar familie.

Sy word oorleef deur haar dogter Charmaine Stander, wat in Oudtshoorn woon en ’n ruk ook by haar ma se onderneming gewerk het, ’n seun Jacques en sy vrou Marlise Grobler (van Windsorton, Noord-Kaap), en haar sewe kleinkinders.

Olga se begrafnis vind Vrydag 2 Junie om 11:00 by die NG Kerk, Moedergemeente op die hoek van Hoog- en Kerkstraat plaas.

• Volgens sers. Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie is die klag van roekelose en nalatige bestuur na strafbare manslag verander.

“Op hierdie stadium moet ons toelaat dat die ondersoek ons lei. Slegs na die ondersoek afgehandel is, kan daar bepaal word wie aangekla gaan word” het hy op ’n medianavraag gereageer.

Daar is nog geen arrestasies gemaak nie en dat die dossier na afloop van die ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) gestuur sal word, waarna bepaal sal word of die saak vervolg gaan word, het hy afgesluit.