
Die munisipaliteit en verskeie sakeondernemings en organisasies het voorverlede week begin om riete en versperrings uit die Grobbelaarsrivier te verwyder.
Dit volg na jare se dringende versoeke deur inwoners en sakeondernemings dat die rivier skoongemaak word sodat water tydens swaar reën nie omliggende eiendomme beskadig nie.
Tydens ’n vergadering met belanghebbendes in November verlede jaar het die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, gesê ’n dringende aansoek word aan die departement van omgewingsake gerig wat die skoonmaak van die rivier sal toelaat.
Hy het gesê die dringendheid van die versoek is om te voorkom dat vloedskade weer plaasvind soos wat verlede jaar die geval was toe die rivier in vloed was.
“Dit is nie net om mense se eiendomme te beskerm nie, maar ook om munisipale infrastruktuur te beskerm wat gereeld deur vloede beskadig word,” het hy tydens die vergadering gesê.
Van die mense wat die vergadering bygewoon het, het vingers na die munisipaliteit gewys omdat die rivier vir jare geen aandag ontvang het nie en inwoners toegelaat was om onwettige versperrings in die rivier op te rig om water uit hulle eiendomme te hou.
Daar was ’n versoek aan die burgmeester dat sulke onwettige optrede dringend aangespreek moet word en oortreders opgeskroef moet word.
Met Die Hoorn se besoek aan die laagwaterbrug in Kerkstraat hierdie week waar munisipale spanne besig was, het die burgemeester telefonies bevestig dat hulle toestemming vanaf die departement van omgewingsake ontvang het om die rivier skoon te maak.
Hy het verduidelik dat die rivier in verskillende sones opgedeel is, maar dat die munisipaliteit nie oor die nodige fondse beskik om die hele rivier skoon te maak nie. “Ons vra inwoners, organisasies en besighede om van die sones ‘aan te neem’ en help met die befondsing van die opruiming,” het hy gesê.
Die munisipaliteit is tans besig met die gedeelte van die rivier vanaf Kerkstraat tot by Vredestraat.
Volgens Allers het ’n ontwikkelaar en sakeonderming onderneem om die gedeelte tussen Vredestraat en Bloemstraat skoon te maak. Die rivier is reeds weerskante van die brug in Rademeyrstraat waar die nuwe winkelsentrum opgerig word, skoongemaak. Dit is deur sakeondernemings gedoen.
“Ons groot uitdaging is die gedeelte tussen Noordstraat en Van der Rietstraat waar dit dig bebos is. Ons doen ’n dringende beroep op besighede en organisasies om ons te help met daardie deel.” het Allers gesê. Die dringendheid spruit voort uit die sperdatum wat deur die departement van omgewingsake gegee is. Alle werk wat in die rivier onderneem word, moet teen 28 Februarie 2025 voltooi wees, want die tydelike permit wat uitgereik is, verval dan.
Terwyl die meeste inwoners juig oor die opruimingswerk is daar verskeie mense wat hulle kommer uitspreek oor die wyse waarop die rivier skoongemaak word.
Hulle glo dat die ekologie versteur word deur die wyse waarop masjienerie gebruik word om die rivier skoon te maak. Sover vasgestel kon word het die munisipaliteit geen amptelike besware teen die skoonmaakproses ontvang nie. Enige instansie wat betrokke wil raak kan die kantoor van die Burgermeester ska-kel by 044 203 3000. (HANNES VISSER)
Be the first to comment on "Grobbelaarsrivier word uiteindelik skoongemaak"