Gebou stort ineen in George

Bo: Reddingswerkers werk onverpoosd vanaf Maandag 6 Mei 2024, nadat ’n gebou in Victoriastraat, George in duie gestort het. 75 werkers was ten tye van die ineenstorting besig met bouwerk aan die gebou. Tot dusver is 36 werkers gered, waarvan 7 oorlede is. Oudtshoorn se waarnemnde bestuurder van Brandweer en Rampbestuur, Mornay Thysse en Majoor Marnewick van die SANDF het gister tente geneem vir die reddingspoging en die Oudtshoorn Hospitaal is ook op gereedheidsgrondslag geplaas. Foto: Deidre Cloete van Deds Photography

Die land hou hul asems op, terwyl sowat 200 reddingswerkers in George, volstoom steeds aan die gang is om die slagoffers van Maandag se fratsongeluk in Victoriastraat te red. Sowat 75 werkers was onder die vyf-verdieping gebou vasgekeer, nadat dit Maandag omstreeks 14:09 inmekaar gestort het. Teen druktyd is 36 werkers gered, waarvan 7 oorlede is. 39 word steeds vermis. Reddingswerk is reeds 51 uur aan die gang.

Theuns Kruger, direkteur van Liatel Ontwikkeling, die maatskappy wat die bouwerk onderneem het, het in ’n mediaverklaring gesê dat hul, hul samewerking ten volle aan die maatskappy sal gee wat die forensiese ondersoek behartig, om die oorsaak van die ineenstorting te bepaal.

Indien enige lid van die enige veiligheidstoerusting soos koplampe, handskoene en veiligheidsbrille of selfs drinkwater, energiedrankies, energielekkers of kos vir die nooddienste wil verskaf terwyl hulle op die perseel is – kan dit by die tent in Victoriastraat 79, voor Delplan Consulting afgegee word, wat deur Gift of the Givers en Herman Pienaar van LoveGeorge beman word.

Die tent sal oop wees vir aflewerings regdeur die reddingstydperk. Kontak gerus vir Mario Ferreira by 082 490 275 (Gift of the Givers) of Herman Pienaar by 082 829 6428 (LoveGeorge).

Vir enige finansiële hulp, kan die Volgende rekening gebruik word: George Municipality: Relief and Charitable Fund, ABSA BANK Cheque Acc: 9149554208, Branch Code: 632005.