KKNK weer van 29 Maart tot 3 April op Oudtshoorn!

DIE volgende Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn vind vanaf 29 Maart tot 3 April vanjaar plaas.
Dié datums val binne die skoolvakansies.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het gister bevestig dat ’n fees vir dié datums beplan word. Hy sê daar is egter streng maat­reëls waaraan voldoen sal moet word om seker te maak dat ’n veilige fees vir almal op verant­woordelike wyse binne die huidige omstandighede aangebied word.

Dit bied duidelik ’n baie groot uitdaging ten opsigte van die organisering van ’n fees.”

“Daar is baie vennote betrokke by die organise­ring van ’n fees en ons moet dit binne die huidige pandemie se wetge­wing en regulasies doen. Dit het ’n impak op die formaat en baie ander aspekte van die KKNK,” sê Theart.

“Die realiteit is dat alles daagliks onderhewig is aan verandering binne die onsekere pandemie-tyd­perk.”

Theart sê daar is groot opwinding dat die Klein Karoo weer ’n fees sal kan aanbied. Die KKNK het laas in 2019 op Oudtshoorn plaasfevind en moes in Maart 2020 kort voordat die fees sou plaasvind, gekanselleer word.

“Ons is verheug oor die moontlikheid om ná twee jaar weer op Oudtshoorn te kan feesvier. Alhoewel ons oor die afgelope tyd, terwyl die fees nie kon plaasvind nie, hope digitale vermaak aan feesgangers gebied het, is daar niks beter as om die KKNK in Oudtshoorn se natuurskoon en met Klein Karoo-gasvryheid in lewende lywe te ervaar nie.” Só sê Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK-direksie.

“Ons is baie opgewonde en staan gereed om feesgangers en kunstenaars van ver en wyd op Oudtshoorn te verwelkom en te vermaak. Soos oudergewoonte by alle byeenkomste gaan streng Covid-19-maatreëls toegepas word, sodat ons na die veiligheid van feesgangers, kunstenaars en personeel kan omsien en op ’n verantwoordelike manier kan saamkuier,” sê Sonn. 

“Dit is nie maklik om ’n fees, waar mense in noue kontak met mekaar moet omgaan, aan te bied én steeds die veiligheidsfaktor toe te pas, sonder dat ons aan sekere sleutelmaatreëls sal moet voldoen nie. Dit sluit in dat ons ’n inentingsmandaat sal toepas wat beide in akkoord en ter ondersteuning is van die huidige nasionale beweging, en wat ook deur ons borge ondersteun word. Ons feesgangers is lief vir die kunste en ons twyfel nie dat hulle sal verstaan hoe belangrik hierdie vereiste is nie – wat ons toelaat om hoegenaamd fees te kan hou,” voeg Sonn by.

Theart sê die vooruitsig om feesgangers, borge, kunstenaars, vennote en ander besoekers op Oudtshoorn te verwelkom is ’n voorreg. “Ons sien daarna uit om weer kuns in die hartjie van die Klein Karoo te vier. Dit is vir ons heerlik om met nuwe oë na die fees te kyk. Meeste van die gewilde elemente word aangebied, maar alles word op ’n nuwe manier verpak om nuwe ervarings te skep wat veilig binne Covid-19-riglyne aangebied kan word. Ons nooi jou uit om aan die einde van Maart in die Klein Karoo te kom asem skep.” 

Volgens Theart word die feesprogram teen einde Februarie bekendgestel, met kaartjieverkope wat direk daarna open. “Kaartjies na vertonings word weens die veiligheidsmaatreëls beperk. Indien jy eerste die geleentheid wil hê om te bespreek, sluit aan by ons Vriende van die KKNK-klub. Kontak gerus vir Daleen Witbooi by info@kunste.org.za vir meer inligting.”

Alle maatreëls, voorwaardes en prosedures wat voor en tydens die fees gevolg gaan word, word binnekort op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za beskikbaar gestel. Hierdie riglyne gaan streng tydens die fees deur alle betrokkenes en besoekers gevolg moet word om sodoende almal se veiligheid te verseker.

Verblyfbesprekings kan deur die Groter Oudtshoorn Toerisme-kantoor by 044 279 2532 gedoen word, of kontak die feeskantoor by 044 203 8600 vir meer inligting. 

(Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "KKNK weer van 29 Maart tot 3 April op Oudtshoorn!"

  1. Sharon | 29/01/2022 at 23:21 |

    Ek dink daar moet geen fees gehou want wat het geword van Human rights daar is Baie mense wat nie vaccine jabs kan neem weens hulle grsondheid soos ek byvoorbeeld moetek dan n brief bring as bewys vsn my Dokter en almal wat geent is heti almal hulle bewys sertifikate gekry so hoe kan daar n fees gehou word

Comments are closed.