
Die hartklop van Struisies se koor en musiek, en geliefde juffrou, Elmine Bester, tree vanjaar amptelik af na 42 jaar.
Elmine het as 21-jarige, in 1981, by Hoërskool Oudtshoorn aangesluit as musiekonderwyser. Sy het in Stellenbosch musiek en onderwys studeer.
Koor was vir haar ’n groot liefde, en sy en haar man Danie het self op universiteit in die koor gesing. Van die 42 jaar in die onderwys, rig sy reeds die koor vir 40 jaar af.
Haar man, ook ’n musiekonderwyser, het saam met haar by Struisies begin, maar later sy eie besigheid begin en is vandag bekend vir sy uitmuntende bou- en herstelwerk aan eiendomme. Hy gee steeds middae ekstra musiekklasse vir Struisies en help die koor twee maal per week afrig.
Die egpaar is albei hoogs musikaal met ’n passie vir klavier en koor. Hul kinders, Kara, Daniël en Jana (’n tweeling) is ook musikaal en speel klavier.
Vir Elmine is hierdie ’n bittersoet tyd, omdat sy soveel leerders deur haar loopbaan aangeraak het.
“Ek gaan die kinders ongelooflik baie mis. Dit was vir my so spesiaal om saam met hulle te werk, te leer en te sien hoe elkeen groei en hoogtes bereik,” vertel sy.
Sy gaan egter nie die vroeg opstaan mis nie, en sien beslis uit daarna om laat te slaap en lekker saam met haar twee honde in die bed te lê en ontspan.
Oor haar planne na skool spot sy: “Ek gaan sit, rus, slaap en dalk bietjie met my honde gaan stap.”
Sy beplan ook ’n toer oorsee vir later, en sal graag saam met haar kinders die Camino in Spanje gaan stap.
Oor haar hoogtepunte vertel sy dat daar baie was, maar sy lig enkeles uit. “Ons was genooi as een van die wen- kore by die Kaapstad Stadsaal, en ook op ’n ander keer na die Barnyard Teater.”
Dan was daar in 2013 ’n Struisies in Concert, en Vrydagaand het hulle weer vir oulaas ’n Struisies in Concert aangebied, waar afskeid geneem is van Elmine en Danie.
Saterdag het ou koorlede van die afgelope 40 jaar bymekaar gekom om te oefen en ’n nuwe lied voor te berei vir die aand se 40-jaar-afskeid.
“Ons het so lekker geoefen en weer ou liedere gesing dat ons van 10:00 tot 12:45 saam gesing het.” Om 18:00 was die amptelike afskeid, en selfs die skoollied is gesing.
Sondag was daar ’n spesiale optrede in ’n kerk om die reünie en afskeid af te sluit.
Die nalatenskap wat sy in ontelbare kinders en mense se lewens gemaak het, sal vir ewig voortleef, en sy laat ’n groot leemte by die skool. (ANGELIQUE ERASMUS)


Boodskap van Hoërskool Oudtshoorn se skoolhoof, Mnr. Gerrit Rudolph:
Struisies sê totsiens aan twee uitsonderlike musieklegendes – Elmine en Danie Bester.
As die Struisie-familie neem ons met diep waardering en opregte dankbaarheid afskeid van die twee merkwaardige legendes, wat vir die afgelope 42 jaar musiekonderwys en 40 jaar die leiding van die Ad Astra-koor tot buitengewone hoogtes gelei het. Deur hul toewyding, passie en onwrikbare standaarde het hulle nie net musiek as vak verryk nie, maar ook generasies van leerders geïnspireer en gevorm.
Die klanke van hul nalatenskap sal nog lank in die gange van ons skool en in die harte van die Struisie-gemeenskap weerklink. Julle vertrek laat ’n diep en onvervangbare leemte.
Ons eer julle vir julle leiding, visie en die betekenisvolle impak wat julle gemaak het.
Mag die pad vorentoe net so vervullend wees soos die jare wat julle aan ons gemeenskap gewy het. Julle sal altyd deel van die Struisie-familie bly!