Drie vas vir R500000 se dwelms

Die polisievoertuie, die dwelms, die geld... Talle polisievoertuie links bo in Adderleystraat op Oudtshoorn waar ’n 33-jarige man oor die middaguur in hegtenis geneem is op aanklag van die handel in dwelms. Middel bo is van die dwelms waarop beslag gelê is en regs geld wat in die huis gevind is. Foto’s verskaf

DRIE mans is Dinsdag (10 November) op drie verskillende plekke op Oudtshoorn in hegtenis geneem nadat verskeie polisie-eenhede beslag gelê het op dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R500 000.

Lede van Oudtshoorn Misdaadintelligensie, Eden Kluster Misdaadvoorkoming, Oudtshoorn Misdaadvoorkoming en die Attaqua K9-eenheid (honde-eenheid) het omstreeks 12:10 op ’n perseel in Adderleystraat toegeslaan. Meer as R50 000 kontant is in ’n slaapkamer in die huis gevind, en 12 pakkies Tik, 1 190 Mandrax-tablette en 103 gram kokaïen in ’n houtstruktuur agter die huis.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is ’n 33-jarige buitelander op aanklag van die handel in dwelms in hegtenis geneem. “Voorlopige ondersoek dui daarop dat die dwelms bestem was vir verspreiding in Oudtshoorn,” het hy gesê.

Intussen het soortgelyke operasies terselfdertyd by twee dwelmafsetpunte in Bongulethu en Bridgton gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes van 33 en 55 jaar oud vir die besit van dwelms. Klein hoeveelhede tik is in hul besit gevind.

Die drie mans verskyn na verwagting vandag in die hof op Oudtshoorn. (Deur Liesel le Roux)