Drankdiewe slaan laatnag toe in dorp

Die toneel waar vyf mans in die vroeë oggendure Dinsdag eers per motor en daarna te voet gevlug het na ’n inbraak by Tops @ Wilck Spar. Die motor naaste aan die kamera is die motor waarmee die inbrekers wou wegjaag. Foto: Ebenezer Titus

DIE Oudtshoorn Polisie het teen gisteroggend reeds een verdagte in hegtenis geneem in verband met ’n inbraak by Tops @ Wilck Spar in Kerkstraat Dinsdag in die vroeë oggendure.

Vier mans wat te voet van die toneel gevlug het, was egter teen gistermiddag nog soek.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die sekuriteitsfirma MSec die klaer in die saak omstreeks 01:47 geskakel om hulle in te lig dat daar by die winkel ingebreek is.

MSec het kort na 01:30 ’n alarmsein ontvang en met hul aankoms op die toneel gevind die sekuriteitshek asook ’n venster by die winkel se deur was oopgebreek.

Toe ’n maroenkleurige voertuig met vyf mans daarin van die toneel probeer wegjaag het, het die MSec-voertuig hulle gevolg en tot stilstand probeer bring. Die wegkomvoertuig het in die MSec-voertuig vasgery, met die vyf insittendes wat uitgespring en te voet van die toneel gevlug het.

Een man is intussen deur die polisie vasgetrek.

Michaels sê die omvang van die diefstal is nie bekend nie. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Drankdiewe slaan laatnag toe in dorp"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*