Dorp treur oor geliefde geneesheer se dood

Dr Nolan Dreyer. Foto: Die Hoorn

DIE dood van ’n geliefde geneesheer van Oudtshoorn nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is, dr Nolan Dreyer, het die gemeenskap die afgelope week in rou gedompel.

Uit boodskappe, oproepe, gesprekke en inskrywings en kommentaar op sosiale media is dit duidelik dat Nolan Dreyer ’n groot invloed op baie mense se lewens gehad het.

Hy was duidelik wyd gerespekteer en geliefd, met sy dood wat ’n groot leemte op die dorp gelaat het.

Volgens sy broer, dr Charles Dreyer, strek Nolan se diens aan die Oudtshoorn-gemeenskap oor byna 24 jaar.

Hy het in 1997 en 1998 by die Oudts­hoorn Hospitaal gewerk waarna hy in 1999 by Charles se privaatpraktyk aan­gesluit het. Hy het sedert 2002 sy eie praktyk bedryf.

Charles sê sy broer sal onthou word as ’n toegewyde pa van sy dogter Vanya (19) en seun Dylan (15), eggenoot van sy vrou Cindy, en ook as ’n dokter wat sy pasiënte soos sy eie famlie behandel het.

Charles het names die familie almal bedank vir hul ondersteuning. “Dankie aan almal wat mildelik gebede op ons as fami­lie uitgestort en hemelwaarts gerig het, om ons as familie te ondersteun in die tyd van hartseer en verdriet. Ieder en elk word bedank vir die bemoedigende boodskappe sowel as die blomme en voorbereide etes.”

Volgens Charles word ’n biduur vandag (Donderdag 17 September) in die Griesselsaal gehou en ’n gedenkdiens Saterdag by die AGS-Kerk.

• Uit kommentaar op Die Hoorn se Facebook-bladsy is die agting van inwo­ners vir dr Dreyer duidelik.

Daniel Aspling skryf: Baie dankie vir die spieël van jou lewe. Die rol wat jy gespeel het in goeie gesondheidsorg aan die bruin gemeenskappe van heinde en verre. Die verskillende dokters wat deur daardie praktyk van u is om self hulle voete te vind. Ek gaan jou mis, dr Nolan Dreyer, u was werklikwaar ons dokter in Toekomsrus.

Paunielle Rhodes skryf: Dr Dreyer, waar begin ons om dankie te sê… My hart is so seer, maar ween nie soos mense wat nie hoop het nie… Voorwaar, voorwaar jy was ’n dokter uit ons Hemelse Pappa se hand… So gebid vir jou genesing… But God knows best. Gaan dokter baie mis en sommer vir die berading, besigheidsadvies, lewenslesse, en so kan die lys aangaan… Ek het gister vir mammie gesê ’n mens het altyd soveel ligter uit dokter se spreekkamer gestap, en you have truly lived your calling… We salute you, Doctor… Sterkte, Cindy en kinders, ons bid die Here se hand om julle in die hartseer tyd vas te hou en te vertroos.

Dr Wessel Vermeulen skryf: Oudts­hoorn het ’n groot seun verloor – hy het die dorp se mense met onvermoeide selfopofferende ywer en liefde gedien.

’n Voorbeeld van ’n mens wat terugkeer na sy herkoms en terugploeg in diens aan sy mense. (Deur Stefan Skapie Goosen)