Die stalletjies is uitgepak, die verhoë is opgerig, klank is getoets en die ligte skyn helder. Kunswerke is sorgvuldig opgehang teen mure. Die lekkerste kosreuke hang in die lug, en oral loop besoekers en gesels opgeruimd.
Die liedjie “vyf sent, tien sent, twintig sent, vyftig sent, dis lekker by die kunstefees,” maal in my kop.
Mens kan nie help om hierdie opgewonde gevoel binne jou te kry as die dorp feestelik is nie. Dis lekker, en voel soos ’n mini-vakansie in April.
Natuurlik gaan daar maande se beplanning in die fees in, en vir weke voor die fees word daar van vroegoggend tot laataand gewerk om klaar te kry. Alles is haarfyn beplan. En nou is die fees hier – en dan werk almal nog harder.
Wat ’n skouspel van ’n openingskonsert!
Feesgangers wat Maandagaand se KKNK- openingskonsert misgeloop het, kan hulself skop. Dit was ʼn kaleidoskoop van musiek met begelei-ding deur die Cape Town Pops-simfonieorkes met Maestro Richard Cock. Saam met hulle was die Charl du Plessis Trio en kitaarspeler Mauritz Lotz.
Die heuwels fantasties, Demi-Lee Moore, Judith Sephuma, Timothy Moloi, Lynell Kenned en Frank Opperman, wat ook die programleier was, het die gehoor gaande gehad met liedjies wat so uiteenlopend soos die kunstenaars was. Van Sproetjies, verby Victoriabaai tot anderkant Kinders van die wind en selfs opera en liedjies van Vusi Mahlasela en Johnny Clegg het weereens bewys dat musiek geen grense ken nie.
Die feesterrein was volgepak en as dit ’n aanduiding is van die gees wat by vanjaar se fees gaan heers, gaan 2025 se KKNK voorwaar ’n belewenis wees. Selfs Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, was in feesklere op die verhoog om besoekers welkom te heet.
Die musiek by die feesterrein is ingesluit by week- of dagkaartjies. Verskeie musikante is elke dag vanaf 12:30 tot 16:00 op die Castle-verhoog te sien en dan skuif die klanke vanaf 16:00 na die groot feesverhoog se aandprogram met van die land se beste kunstenaars op die groot verhoog.
Hier is die verhoogprogram:
Woensdag 2 April:
Castle Lager-verhoog: Jodi Jantjies, Posduif en Shaza
Feesverhoog: Emo Adams, Droomsindroom, Die piesangskille, Majozi en Spoegwolf
Donderdag 3 April
Castle Lager-verhoog: Kruger & Tutu, Hugo Hewitt en Van der Aven.
Fessverhoog: Jarrad Ricketts, Bobby van Jaarsveld, Booshle G, Die heuwels fantasties en Jeremy Loops
Vrydag 4 April
Castle Lager-verhoog: Chris else, Irene-Louise van Wyk, Vuvu Khumalo en Kurt Darren
Feesverhoog: Wynand en Chereé, Elandré, Dr Victor & The Rasta Rebels, Demi-Lee Moore en Roan Ash.
Saterdag 5 April
Castle Lager-verhoog: Lisie Basson, Donkiekar boereorkes, Tribal Echo en Barto
Feesverhoog: Juanita du Plessis, Refentse, BlackByrd, Brendan Peyper en Riaan Benadé
Sondag 6 April
Castle Lager-verhoog: Tarryn Lamb, Tino, Don Vino, johan Liebenberg & Mauritz Lotz en Bok van Blerk.
Feesverhoog om 19:30: Duif met Nataniël en tien musikante. (REDAKSIESPAN)


