Dienstetariewe met 1,5% gesny

Die nuwe tariewe tree op 1 Julie 2021 in werking. Die elektri­si­teitstarief-verhoging wat laer is as Eskom se 17,8%-verhoging aan munisipaliteite (goedgekeur deur NERSA) is nou onderhewig aan NERSA-goedkeuring. Tabel: Heinrich Bosman

INWONERS van die Groter Oudtshoorn sal vanaf 1 Julie 2021 1,5% minder vir hul diensterekeninge betaal as wat die raad aanvanklik in sy konsepbegroting vir 2021/2022 oorweeg het, danksy insette van inwoners van die gebied.

Daar was na die bekendmaking van die konsepbegroting vroeër vanjaar groot ongelukkigheid onder inwoners oor die nuwe tariewe, met ten minste twee petisies daarteen wat deur talle inwoners onderteken is.

Die Groter Oudtshoorn-raad het Maandag (7 Junie) die begroting vir 2021/2022 en die Geïntegreerde Ontwik­kelingsplan (GOP)  by ’n raadsvergadering op die dorp goedgekeur.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het by die raadsvergadering en ook later tydens ’n mediakonferensie inwoners bedank vir hul insette tydens gemeenskapsdeelname-vergaderings asook in briewe en deur die ondertekening van petisies.

“Ons het al die insette goed deurdink en op grond daarvan die diensterekening met nog 1,5% besnoei. Enige verdere besnoeiing egter sal lei tot die ineenstorting van die verskaffing van dienste aan inwoners.

“Dis nou amper verkiesingstyd en ons weet ons sou gewild gewees het by inwoners as ons tariewe nog verder besnoei het, maar ’n paar maande na die verkiesing sou die munisipaliteit in duie gestort het en dan was die Groter Oudtshoorn in groot moeilikheid.

“Dit sou dwaas wees om dit te doen. Diensle­wering moet kan voortgaan.”

Macpherson het gesê hy het groot waardering vir almal wat briewe geskryf het met positiewe voorstelle, soos een van ’n vorige burgemeester, Lampies Lamprecht, en ook almal wat petisies onderteken het en daardeur getoon het hulle is betrokke by hul dorp.

Macherson het voorts sterk gereageer op kritiek by vergaderings dat die DA sleg vaar en die party is wat verantwoordelik is vir die verwaarlosing van raadseiendom.

“Ek het in ’n stadium gesê ek gaan gaan my hoed nou afhaal as die burgemeester en nou praat as die leier van die DA. Daar is byvoorbeeld pas bekend gemaak dat R213 biljoen gesteel is tydens staatskaping, waarvan ons tot dusver weet met wat bekend geword het by die Zondo-kommissie. Daar is byvoorbeeld die R40 biljoen van Transnet, R7 biljoen van Eskom, R5,2 biljoen van Denel, ensovoorts.

“Ons word ook verwyt, maar dink aan die R19,4 miljard wat nou deur die nasionale regering van munisipaliteite weggeneem is. Dit is hoekom munisipaliteite besig is om in duie te stort, as gevolg van hierdie optrede op nasionale vlak en ander vlakke.

“As ons alles bymekaartel, wil ek vra waar ons sou gewees het as ons nog daardie geld gehad het om ons mense te kon help? En dan praat ek nie eens van al die geld in die land wat tydens Covid ver­dwyn het nie.” (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Dienstetariewe met 1,5% gesny"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*