Dief veroorsaak ongeluk

Bo: Die Volvo, wat Saterdagmiddag gebruik is tydens ’n inbraak in ’n bakkie in Hoopstraat, het oomblikke later, sonder om te stop oor die kruising van Baron van Reede en Van der Rietstraat gejaag, en met ’n wit Nissan gebots. Onder: Die ongelukstoneel met noodienspersoneel in aksie. Foto’s: Lindi Brill

’n Rustige Saterdagmiddag het in ’n jaagtog en ongeluk geëindig toe ’n onbekende man in Hoopstraat, by ’n bakkie inbreek het.

Rudi van der Walt en sy vriend, wat in Hoopstraat woon, het op die stoep uitgespan, toe hul ’n man wat verdag optree in die straat sien stap het. “Net na ons die man gesien het, het ons buurvrou se bakkie alarm begin loei, en ons het opgespring en gaan ondersoek instel,” het Van der Walt aan Die Hoorn gesê.

Met hul aankoms by hul buurvrou, Magda Viljoen, se bakkie, het hul dieselfde man sien weghardloop in Parkweg se rigting en opgemerk dat die motor se deur oopgebreek is.

Die pad het vol geparkeerde voertuie gestaan, met meeste van die persone wat die rugby-wedstryd tussen Bridgton en Harlequins op die weermag se Sportgronde bygewoon het.

“Toe ons in Parkweg kom, was die man skoonveld, maar ons het aanhou soek na hom tussen al die motors,” vertel hy verder.

Die volgende oomblik het die man agter een van die voertuie agter Van der Walt-hulle opgespring en weer teruggehardloop in die rigting van Hoopstraat. Hulle het hom weer agterna gesit en in Hoopstraat ingehardloop.

“Terwyl ons hom jaag het hy heeltyd geskree dat hy ons gaan skiet en aan sy sy gevat, asof hy ’n wapen wil uithaal. Hy het in ’n goudkleurige Volvo gespring wat in die straat geparkeer was. Ek het probeer om die sleutel van die Volvo uit te haal en die stuurwiel te draai sodat hy nie kan uitry nie, maar hy het ’n mes uitgeruk en my skrams gesteek,” het hy gesê. Toe hy wegjaag het hy ook oor Van der Walt se voet gery. Die verdagte het na bewering met kontant wat hy uit Viljoen se motor gesteel het weggekom.

Oomblikke later het hy oor die kruising van Van der Rietstraat en Baron van Reede gejaag sonder om by die stopstraat te stop en in ’n wit Nissan motor vasgery.

Volgens ooggetuies wat die ongeluk gesien gebeur het, het die verdagte uitgespring en weggehardloop, en ’n blok verder is hy deur ’n ander motor opgelaai.

Terwyl Die Hoorn op die ongelukstoneel was, het ons gesien hoe die verdagte in ’n grys of sil-werkleurige motor enkele minute later weer verby die ongelukstoneel ry. Ooggetuies wat ook op die toneel was, en gesien het in watter motor die verdagte opgelaai is, het ook die motor opgemerk en vir die polisie geskree dat dit die verdagte is wat in die motor verby gery het. Die polisie het eers gepoog om die voertuig te stop, maar hy het hulle ontduik. Hulle het hom toe agternagesit.

Van der Walt is toe na die toneel geneem om die verdagte inbreker se voertuig uit te ken, en het aan Die Hoorn vertel dat daar na bewering op Indonisiese geld, beursies en ’n klomp selfone afgekom is, toe Polisie die Volvo, wat op die ongelukstoneel gelos is, deursoek het.

Volgens Anelisiwe Manyana, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaap Polisie, is daar wel in ’n voertuig in Hoopstraat ingebreek. ’n Saak van diefstal uit ’n voertuig is geopen.

Daar is nog geen verdagtes in die voorval gearresteer nie, het die verklaring verder gelees.
Manyana het bevestig dat die verdagte se voertuig in ’n ongeluk betrokke was op die hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat. Enige persone met inligting kan die Oudtshoorn polisie skakel by 044 203 9000.