Die Klein Karoo spoel weg

Bo: Stompdriftdam Foto SKWGV Onder: Cango Wildlife Ranch Foto: Verskaf

Massas water het deur dele van die Klein Karoo gespoel, nadat reën oor die area op Saterdag 1 Junie 2024 begin uitsak het.

’n Weerwaarskuwing oor nat, koue en winderige toestande is reeds Donderdag 30 Mei 2024 deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik, en op verskeie mediaplatforms gedeel.

Teen Maandag het laagwaterbrûe in Oudtshoorn begin oorloop, en verskeie strate is gesluit as voorsorgmaatreël, met water wat wel later die dag begin oorloop het.

Slegs Voortrekkerweg was begaanbaar en het Wesbank aan die res van die dorp verbind. Daar was om 17:00 Dinsdagmiddag ’n nie-ernstige botsing tussen twee voertuie. Die insittendes is nie ernstig beseer nie. Voortrekkerweg het vanaf Maandagmiddag asook die daaropvolgende og-gende en middae soos spitsverkeer in die middestad van Kaapstad gelyk.

Die Cango Wildlife Ranch net buite Oudtshoorn op pad na Schoemanshoek het Dinsdag 13:30 kennis ontvang om te ontruim. Dit het hul ongeveer 3 ure geneem om alle diere te ontruim en na veiligheid te bring. Teen 19:00 die aand was hul ontruiming voltooi, en is alle diere behalwe een, ’n Red-Rumped Agouti, wat inheems tot Suid-Amerika is, veilig. Die diertjie kan amper met ’n dassie vergelyk word en het ongelukkig tydens die ontruiming ontsnap en weggehardloop. Sy lot is egter nog onbekend.

Volgens Tammy Moult, assistentdirekteur van die Cango Wildlife Ranch, het in ’n mediaverkla-ring gesê dat ’n grensmuur teen die rivier omgeval het en baie water by die fasiliteit ingevloei het. “Teen 20:00 was die water sowat 4 meter hoog, en verskeie van die diere se kampe was onder water.” Hulle is steeds besig om die totale omvang van die skade te assesseer, en beplan om hul deure teen Maandag 10 Junie 2024 vir besoekers weer oop te maak.

“Ons wil graag ons personeel en vrywilligers vir hul toewyding en harde werk tydens die vloed bedank. Ons is ook baie dankbaar vir lede van die gemeenskap wat ons van noodsaaklike inligting voorsien het om die situasie die beste te bestuur en ook aan almal wat na ons uitgereik het en vir ons omgee,” sluit Moult af.

Die toeriste-attraksie is een van vele plekke en paaie wat deurgeloop het. Die pad na die Kango Grotte moes vanaf Dinsdag gesluit word, nadat verskeie rotsstortings die pad gevaarlik en op verskeie plekke onbegaanbaar gemaak het. Die Swartbergpas is ook as voorsorgmaatreël gesluit.
Die Outeniquapas was ook Dinsdagmiddag gesluit na ’n motorongeluk, maar sowat drie ure later weer oopgestel vir verkeer. Die pad na Mosselbaai (R328) is Woensdagaand gesluit weens kommer oor die brug se toestand wat oor die Olifantsrivier naby Zeekoegat loop.

Meiringspoort is ook Maandagoggend ongeveer 07:30 vir verkeer gesluit as voorsorgmaatreël. Ses persone is met hulp van die AMS helikopter Woensdag uit die poort gered.

Die Hoorn het met Nadia Bekker, wat vir 28 uur in Meiringspoort vasgekeer was gesels.

Sy en haar werkgewer het om 06:30 Dinsdag-oggend vanuit Oudtshoorn na Prins Albert gery vir besigheid.

“Toe ons 07:30 amper deur die poort was, was die laaste bruggie reeds oorspoel en moes ons omdraai,” vertel sy. Hulle het omgedraai en teruggery na De Rust, maar is net na Ontploffingsdrift weer deur water vasgekeer en het toe daar gebly en oorgeslaap die aand. Op ’n stadium het die water net-net aan die bakkie se bande geraak, en daar was ook verskeie rotsstortings in die poort.

“Dit was die enigste plek waar ons wonderbaarlik sein gehad het en kon ons met nooddienste kommunikeer.” Teen 02:00 Woensdagoggend het die water begin sak en kon hul met moeite na Watervaldrift ry. Hulle is Woensdagoggend om 10:30 uit die poort gered, tussen Watervaldrift en Uitspandrift. Dit was die enigste plek waar die helikopter kon land en hulle na veiligheid bring.

“Ons wil net dankie sê vir Rampbestuur wat regdeur die vreesaanjaende tyd ons elke uur gebel het om te hoor of alles nog reg is, en flink opgetree het om ons te red,” sluit Bekker af.
Intussen is ’n gedeelte van die N12 op pad na De Rust Dinsdagmiddag, tussen Le Roux-stasie en Oudemuragie gesluit, nadat die pad begin meegee het. Die teeropervlak het die volgende dag inmekaar geval. Provinsiale Paaie is intussen besig om die pad te herstel, maar daar is tans nog nie ’n aanduiding wanneer die pad weer vir verkeer oopgestel sal word nie.

Op die pad verby die munisipale skud, na Rooiheuwel en Kleynspoort het die Olifantsrivier en die Doornrivier, naby die Proefplaas die laagwaterbrûe oorstroom. Verskeie inwoners is op hul plase of in die dorp vasgekeer.

11 Persone is ook in Welgeluk, buite Oudts-hoorn deur die Suid-Kaap Polisieduikers per reddingsboot gered. Die 4 mans, 3 vroue en 4 kinders is na veiligheid gebring, nadat hul deur vloedwaters in hul huis vasgekeer was. In totaal is 17 mense gered.

Intussen is ’n volstruis wat Dinsdag naby Welgeluk in die rivier beland het en deur sy eienaar gesoek is, Donderdag naby Zeekoegat lewend gevind. Sy toestand kon egter teen druktyd nie bevestig word nie.

Skade aan paaie, heinings, infrastruktuur, brûe, waterpype, lande en mure is regoor die Klein Karoo aangemeld, met wonings wat ook oorstroom het, en mure wat inmekaar geval het.

Die Melvilledam is tans 100% vol, met water wat uit die skag van die Raubenheimerdam geloop het wat ook 100% vol is.

Die Kammanassiedam het met druktyd op 107% gestaan en loop steeds oor.

Die Stompdriftdam het teen Woensdagoggend 03:00 sy walle begin oorstroom, die eerste keer sedert 2013, en staan op 117%. Stompies-oord, by die dam het ook oorstroom en verskeie eiendomme en strukture het waterskade opgedoen.

Inwoners van Oudtshoorn het op Die Hoorn se Facebookblad foto’s en hul reënmeterlesings gedeel. Verskeie reënmeters het ver in die 100 mm reën gemeet regoor Oudtshoorn.

’n Video wat tans die rondte doen op verskeie sosiale mediaplatvorms, gedeel deur Hannes en Illonke Arndt, trek verskeie ooreenkomste tussen die vloed van die afgelope week en die een wat Oudtshoorn in 1996 getref het.

Verskeie inwoners is steeds afgekeer van dorpe in die groter Oudtshoorn omgewing, en dit blyk dat riviervlakke in die volgende 3 dae kan daal, indien daar nie nog reën in die area uitsak nie.

Inwoners moet steeds vir hul eie veiligheid op hul hoede wees, en nie brûe kruis nie, al loop die water nie daar oor nie, totdat die integriteit van die strukture getoets en hul veiligheid en bruikbaarheid bevestig is deur die relevante owerhede.

Bo: Voortrekkerweg tydens 1996 se vloed.
Onder: Voortrekkerweg Dinsdagoggend. Foto’s: Skermgreep van Hannes Arndt & Die Hoorn

Bo: St Johnstraat tydens 1996 se vloed.
Onder: St Johnstraat Woensdagoggend. Foto’s: Skermgreep van Hannes Arndt & Die Hoorn

Be the first to comment on "Die Klein Karoo spoel weg"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*