Die enjins gaan brul!

Bo: Twee motors draai 360° in die rondte en laat die stof staan na hul mekaar rakelings gemis het. Onder: 2,1 “Modifieds” sê mekaar die stryd aan. Heelonder: Die motors word Saterdag vanaf 07:00 - 10:00 ondersoek. Hierdie was slegs ’n paar aksiebelaaide oomblikke tydens verlede jaar se Klein Karoo Kampioenskappe. Foto’s: Die Hoorn Argief

Oudtshoorniete kan hul volstruisvere regskud vir die naweek se 28ste Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe, wat Saterdag 29 Junie 2024 plaasvind.

Die gewilde ren vind soos elke jaar by die Red Rock Raceway-Ovaalbaan, net buite Oudtshoorn plaas.

Alhoewel matige weer van minimum van 11° C en ’n maksimum van 25° C Saterdag voorspel word, kruip die Klein Karoo koue stadig nader soos wat die son begin sak.

Pak dus warm klere en komberse en ’n warm lafenis vir die keel in, al gaan die aksie witwarm wees.

Oudergewoonte gaan die adrenalienvlakke hoog loop, soos wat petrol en metaan dampe die lug vul.

Stof, brieke, bande en braaivleisvure gaan oor die vlaktes soos mis lê en sorg vir eindelose aksie terwyl die enjins brul soos die renjaers mekaar die stryd aansê.

Met druktyd was daar 133 inskrywings in die 13 verskillende klasse. Hierdie klasse is onder andere die gewilde V8 American Saloons, V8 Sprints, Lexus V8’s, Pink Stocks, Pink Rods en Pink Diva’s waarin die rose mekaar ’n ding of twee gaan wys, Hot Rods, Stock Rods, Junior Hotrods, 1660 Modifieds, 2,1 Modifieds, Midgets, Heavy Metals en selfs die Junior Mini’s, die jongstes wat agter die stuur kan inskuif.

Vir diegene wat graag wil deel in elke sekonde van die aksie, maar nie self langs die baan kan wees nie, sal daar ’n lewendige uitsending wees. Kaartjies vir die uitsending is te koop op www.motorsportza.tv, kies dan die skakel na die KKK2024. ’n Kaartjie kos R150.

Toeskouers wat die aksie lewendig wil beleef, kan al 06:00 ’n plek langs die baan inneem wanneer die hekke Saterdag oopmaak.

Die renmotors word tussen 07:00 en 10:00 ondersoek en die eerste ren begin 11:00.

Kaartjies is by die hekke beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders.

Is julle reg vir al die aksie, die spoed, die opwinding en die gejuig van die toeskouers wanneer hul gunsteling oor die geruite vlag as wenner jaag, en ’n gesogte volstruiseiertrofee wen, so eie aan die Klein Karoo? Bring julle warm musse en baadjies saam!