Dié 28ste KKNK kook!

Die Swartmerrie, ’n plekspesifieke teaterproduksie. Foto’s met vergunning van die KKNK

Dit is die middel van hierdie jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), en die gees is beslis terug by 2024 se fees.

Saterdagmiddag, skuins na 12:00 staan die rye feesgangers tou in St Johnstraat, Oudtshoorn, om kaartjies te koop en die feesterrein binne te gaan.

Daar is groot opgewondenheid in die lug, en ook ’n hele paar donderweer flitse. Nie eers die reën en die geraas van die weer kon oud en jonk weghou nie.

Dit is soos hulle slagspreuk vanjaar lees – “’n Kuur vir elke Kwaal”.

Die program vir die kinders by die Klein KKNK-Teater is uit die boonste rakke, toneel en drama stukke wat verskeie pryse en toekennings opge-raap het, is te sien vanjaar.

Kleurvolle kuns is ’n lafenis vir die siel en voetstamp musiek op die Feesmark-verhoog laat die strate tot laatnag met mense wemel.

En wanneer die hol kolletjie op jou maag hunker na iets lekker, is daar verskeie kosstalletjies vir elke behoefte en smaak. Maak ook ’n draai by die Liplekker-teater, meer daaroor op bladsy 3.

Moet ook nie die daaglikse gesprekke by die ABSA kuierkamer misloop nie.

So, trek aan jou gemaklike skoene, gryp ’n reënbaadjie net vir die wis en onwis, en kom geniet die laaste paar dae van vanjaar se fees saam met jou geliefdes en vriende.

Jy sal nie spyt wees nie!

Rikus Nel op die Feesmark-verhoog.

‘n ABSA Rooibanksessie, aangebied deur Hannes van Wyk.

Kleurvolle kunsuitstallings te sien by die Prince Vincent-gebou.