DIE aantal Covid-19-gevalle in die Tuinroete-distrik het met 105% gestyg in die voorafgaande sewe dae as dit met die week vooraf vergelyk word, het Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete-distrik Maandag gesê. Dié skerp styging is in al die dorpe in die distrik sigbaar.
Volgens Ferreira is die hospitale in die streek nog nie onder druk nie, maar is daar ’n toename in opnames in die meeste hospitale, veral in die George Hospitaal.
George Hospitaal het gister 24 Covid-19-pa-siënte gehad waarvan vyf in die waakeenheid is.
Wat privaathospitale in die distrik betref, het die Life Bayview Hospitaal op Mosselbaai Dinsdag aangedui dat die hospitaal verder slegs hartpasiënte kan opneem, en ander pasiënte na Kaapstad en Gqeberha sal verwys.
Die bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, Hannes Stegmann, sê egter die Mediclinic-hospitale op Oudtshoorn en George is nie tans onder druk nie en kan pasiënte ontvang.
Oudtshoorn-sterftesyfer hoër, maar waarom?
Hoewel die aantal Covid-19-gevalle op Oudtshoorn laer is as die van baie van ons buurdorpe, is die sterftesyfer aan Covid-19 sedert die aanvang van die pandemie persentasiegewys merkbaar hoër in die Groter Oudtshoorn as elders in die Tuinroete-distrik.
Die Hoorn kon tot dusver nie redes vind hiervoor nie, ondanks talle navrae.
Moontlikhede wat geopper is, is dat mense – ook diegene wat kwesbaar is, laks is met die nakoming van Covid-19-regulasies, of dat mense weens lang afstand na mediese dienste of uitstel reeds baie siek is wanneer hulle mediese hulp soek. Dit is egter tans net bespiegelinge.
’n Dokument oor Oudtshoorn se demografie (die sosio-ekonomiese profiel van Oudtshoorn op www.westerncape.gov.za) help ook nie.
Die bevolkingsdigtheid is byvoorbeeld die derde laagste in die streek, die bevolking self krimp met sowat 0,9% jaarliks (met veral mense van werken-de ouderdom wat die dorp verlaat) en die grootste groei in die bevolking is in die ouderdomsgroep 0 tot 14 jaar.
Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het in reaksie op Die Hoorn se navraag aangedui dat navorsing oor die pandemie steeds gedoen word om antwoorde op vrae soos hierdie te kry.
Hul reaksie was die volgende: “Soos hierdie pandemie ons geleer het, is dit veranderlik. Ons wetenskaplikes moniteer en evalueer die impak daarvan met inagneming van die verskillende variante wat aan die wêreld bekend geword het. Ons moet elke moontlikheid in ag neem, maar totdat wetenskaplike bewyse beskikbaar is, sal ons voortgaan om beskikbare data te moniteer en gevolg-trekkings grond op wetenskaplike bewyse wat deur epidemioloë en spesialiste verskaf word.”
’n Tabel waarin die inwonertal in elke munisipale gebied asook die aantal Covid-19-gevalle en sterftesyfers en persentasies aangedui word, verskyn op https://www.diehoorn.com/nuus/beskerm-jou-so-teen-covid-19/ asook wenke oor hoe om jou teen Covid-19 te beskerm. (Deur Liesel le Roux)
Covid styg nou ook hier met Wes-Kaap in die derde golf
Susanna kry haar inenting - op 91 ’n ware inspirasie!
Oudtshoorniete word sedert gister (Woensdag 23 Junie) by die goed ingerigte Toekomsrus Gemeenskapsaal op Oudtshoorn teen Covid-19 ingeënt, en nie meer by die Oudtshoorn Hospitaal nie. Een van die eerste Oudtshoorniete wat gister daar ingespuit is, was Susanna Jansen van Rensburg (91), hier saam met Japie Festus, ’n verpleegkundige. “Sy het ’n goeie voorbeeld vir Oudtshoorniete gestel deur haar eerste inspuiting by die Toekomsrus Gemeenskapsaal te kom ontvang. Sy is sowaar ’n inspirasie vir almal,” het Festus gesê. Inentings sal in die komende weke hier voortgesit word. Foto: Stefan Skapie Goosen