Calitzdorp treur oor geliefde Herschelle

Herschelle Willemse (17). (Foto Facebook)

DIE gemeenskap van Calitzdorp is die naweek geruk deur die dood van ’n gewilde matriekleerder, Herschelle (Gaulo) Willemse (17), in ’n botsing op die dorp.

Herschelle, ’n graad 12-leerder van die Hoër-skool Calitzdorp, was ’n belowende rugbyspeler wat vir die SWD gespeel het en volgens vriende geliefd was onder almal wat hom geken het.

Herschelle het Sondag (7 Maart) in die vroeë oggendure gesterf het toe ’n munisipale bakkie in ’n muur vasgery het.

Sers Christopher Spies, Suid-Kaapse polisie­woordvoerder, sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die voertuig met die R62 vanaf Oudts­hoorn se kant na Calitzdorp gery het toe dit ’n muur in Voortrekkerweg getref en omgeslaan het.

Met die aankoms van die Polisie op die toneel teen omstreeks 03:45 het hulle die bakkie met Herschelle se liggaam op die toneel gevind.

Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Dit is nie bekend wie die voertuig bestuur het nie.

Die bakkie behoort aan die Calitzdorp Munisipaliteit en is as gesteel aangemeld.

Volgens Spies ondersoek die Polisie sake van strafbare manslag en die diefstal van ’n voertuig en is dié ondersoeke in ’n gevorderde stadium. Hy sê aanvanklike inligting dat daar vier mense in die bakkie was en drie van die toneel gevlug het, is nie korrek nie.

“Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat daar twee insittendes in die voertuig was. Niemand is in hegtenis geneem nie.”

Hartseer oor Herschelle
Geskokte Calitzdorpers en skoolmaats van Herschelle het vandeesweek hul skok, hartseer en medelye verwoord op ’n spesiale Facebook-bladsy wat geskep is, Memories for Herchelle Willemse. So skryf party:

Elcarmen-Deslene Grootboom: “Calitzdorp het ’n mooi siel verloor. Jou glimlag was die mooiste, want dit was altyd opreg. Jy’t nooit verby enige een geloop sonder om te groet nie en dan nog met ’n smile ook by. Ons as skoolgemeenskap was bevoorreg om jou in ons lewens te hê. Jy was ’n legend onder almal. Jy’t baie harte aangeraak.”

Kayron Prins: “Die gemeenskap van Calitzdorp het ’n bekwame jong legende aan die dood afge-staan. ’n Jong man wat betekenis aan die sport rugby gegee het. ’n Jong man wat diep spore in ’n menigte van ons harte getrap het.”

Karoo Meisie: “Vandag was een van die moeilikste om te gesit en wag het vir jou om by ons aan te sluit. Dit het my hart gebreek. Weer eens besef ekke dat jy nooit weer by ons gaan kom sit nie. Jou plek weg van my af in die landboubestuurklas is leeg. 7 Maart 2021 – ’n dag wat elke jaar moeilik gaan wees vir my!”

Boodskappe van medelye het ook op sosiale media ingestroom vir Herschelle se ma Nicolene Willemse, en vir sy pa, Johan Arnoldus (Gauls).

’n Vriendin van sy ma, Megan Waarts, skryf so oor Herschelle: “Vanoggend kan ek nie beskryf hoe ek voel nie. My hart breek. Ek onthou 17jaar gelede hoe jou mammie jou in my arms gesit het en ná daai dag was jy diep in my hart. My hart is seer, want net nog gister het ons sy 18de verjaarsdag beplan… Mag jou siel in vrede rus, my engel-kind…” (Deur Liesel le Roux)