Calitzdorp-moord: Onraad vermoed toe De Villiers familiegroep verlaat

HULLE het gewonder wat aan die gang is toe hulle broer Sondagoggend (11 April) skielik hul familiegroep op WhatsApp verlaat het, het ’n suster van Lourens de Villiers (66) Donderdagmiddag aan Die Hoorn gesê.

De Villiers se lyk is Dinsdagmiddag deur die Calitzdorp Polisie buite sy blyplek langs die dam gevind. Sy blou bakkie was weg en is later verlate in Matjiesvlei gevind.

Volgens een van sy susters het hulle aanvanklik vermoed dat De Villiers dalk besig was om na ’n ander selfoonkontrak oor te skakel, maar het hulle toe hul oproepe en boodskappe die volgende dag steeds nie na sy foon deurgegaan het nie, die Calitzdorp Polisie gekontak vir hulp. Volgens haar was die familie egter glad nie voorbereid op die moord op De Villiers nie.

Sy het gevra dat die familielede nie geïdentifiseer moet word nie.

Volgens sy suster was De Villiers se liefde vir sy honde bekend en is die familie reeds besig om planne te maak vir sy drie honde se toekoms. “Die polisie sê een van sy honde is by sy liggaam gevind en wou nie sy liggaam verlaat nie.”

De Villiers was die afgelope sowat twee jaar die bestuurder van die Visarend Eko-oord en het volgens sy suster alles in sy vermoë gedoen om dié oord te herstel tot sy vroeëre glorie. Hy was ook toe hy jonger was ’n nuusregisseur by die SAUK.

Sy suster het die inwoners van Calitzdorp en die Calitzdorp Polisie namens die familie bedank vir wat hul tot dusver gedoen het. “Baie mense was behulpsaam en het gehelp. Ons kan nie glo hoeveel reaksie ons van mense ontvang nie. Ons weet byvoorbeeld selfs nou ook dat hy lid was van die SA Weermagvereniging.”

’n Virtuele gedenkdiens vir De Villiers word vir 2 Mei om 11:30 beplan. Hy word oorleef deur twee susters en ’n broer en was volgens sy Facebook-profiel geskei.

• Kapt Ian Meyer, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, het Donderdagmiddag gesê die ondersoek gaan voort en weer ’n versoek gerig dat enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help, die Calitzdorp Polisie by tel 044 213 3320 moet kontak; veral ook inligting oor waar sy bakkie sedert Saterdag (10 April) gesien is en wie dit bestuur het.

• Lees ’n vorige berig by https://www.diehoorn.com/hoofartikels/liggaam-van-de-villiers-by-sy-blyplek-gevind/ (Deur Liesel le Roux)