‘N 30-JARIGE man en twee jong tieners in gister en vandag na ’n intensiewe ondersoek deur speurders van die Calitzdorp Polisie en die Attaqua K9-eenheid in hegtenis geneem in verband met die moord op Lourens de Villiers (66).
De Villiers se lyk is Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 deur die polisie buite sy blyplek by die Visarend Eko-oord by die Calitzdorpdam gevind. De Villiers se Hyundai-bakkie, wat tydens die aanval gesteel is, is later verlate by Matjiesfontein naby Calitzdorp gevind.
Volgens sers Chris Serfontein, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het ’n 14-jarige jeugdige homself gister (Saterdag 17 April) aan die polisie oorgegee. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem.
Na verdere ondersoek is verskeie gesteelde items wat aan De Villiers behoort het, gister by ’n huis in Bergsig in Calitzdorp teruggevind, onder meer ’n musieksentrum en die sleutels van die bakkie. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van ’n 30-jarige man op ’n aanklag van moord en die besit van gesteelde eiendom.
Vroeër vandag is ’n 15-jarige jeugdige in hegtenis geneem nadat hy ook positief met die voorval verbind is. Hy staan ook tereg op ’n aanklag van moord.
Die drietal bly in aanhouding. Hulle sal Maandag (19 April) in die landdroshof in Calitzdorp verskyn op die genoemde klagtes. Meer klagtes kan bygevoeg word soos die ondersoek vorder.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die span bedank wat dag en nag gewerk het om te verseker dat die skuldiges in hegtenis geneem word. (Deur Liesel le Roux)