Botsing eis skepper van Braaikaaster en vakleerling

Ladismith is in rou gedompel na die dood van die skepper van die braaikaaster wat verlede jaar wêreldwyd bekendheid verwerf het, Bert Lintvelt (64, onder), en een van sy vakleerlinge, Chriszelda Jacobs (17, foto heelonder), het Ladismith in rou gedompel nadat hulle Sondag in ’n botsing gesterf het. Bo is die bakkie waarin hulle gery het.

DIE dood van die man wat bekend staan as die skepper van die braaikaaster – ’n handgemaakte vlekvrye staal-braairooster wat soos ’n kitaar lyk, Bert Lintvelt (64), en een van sy vakleerlinge, Chriszelda (Sussie) Jacobs (17), Sondag (28 Maart) in ’n bot­sing buite Ladismith, het die afgelope dae skokgolwe deur die Klein Karoo gestuur.

Die Nissan NP 200-bakkie van Lindveldt was volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, omstreeks 15:20 by die aan­sluiting van die pad uit Sakkiesbaai by die R62 in ’n botsing met ’n BMW betrokke.

Na verneem word, was ’n paar jongmense en kinders agterop die bakkie.

Chriszelda, wat klaarblyklik voor in die bakkie gesit het, het ernstige beserings in die botsing opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Spies sê Lindveldt is per ambulans na die Alan Blyth Hospitaal in Ladismith geneem, waar hy aan sy beserings beswyk het.

Insittendes van beide voertuie is ook na die hospitaal geneem vir behandeling, met een beseerde wat na die George Hospitaal oorgeplaas is vir behandeling.

Volgens Spies word die botsing en die oorsaak daarvan steeds ondersoek.

• Lintveld het in 2018 sy eerste braaikaaster, ’n braairooster in die vorm van ’n kitaar as verjaarsdaggeskenk vir die rocker Willim Welsyn gemaak. Dié braairoosters is op bestelling as deel van ’n werkskeppings­projek op Ladismith gemaak deur Lintveld en ’n groep Ladismittters wat hy opgelei het om hom daarmee te help.

Welsyn, wat ’n befondsingsveldtog op Erfenisdag verlede jaar geloods het om die projek volhoubaar te maak, het die week gesê hy is geskok en hartseer oor die dood van Lintvelt.

“Die meeste mense ken Bert as die baanbreker-smid van die Blitzkriek Braaikaaster, maar meer as dit was hy ’n vriendelike, besorgde en vryge­wige mens.

“Daar is nie woorde om ons hartseer te beskryf nie. Ons innige meegevoel aan Bert en Sussie se families.”

• Volgens Chriszelda se moeder, Zelda (35), het ’n vriendin van die gesin vir hul dogter en van haar vriende ’n werkie by Lindveldt gekry.

Hulle moes die braairoosters blinkvryf nadat dit vervaardig is.

Sy sê Lintvelt, Chriszelda en ander jongmense en kinders was die middag met Lintveld se bakkie op pad na sy huis op Ladismith waar die kinders ook soms gaan swem het wanneer hulle klaar ge­werk het.

’n Aangedane Henry Jacobs (40) het Maandag gesê sy dogter was ’n baie voorbeeldige kind.

“Sy wou ’n verpleegster word en vir ons sorg; teruggee wat sy kon.”

Chriszelda se begrafnis word vir die naweek na Paasfees beplan word, aangesien ’n lykskouing eers Dinsdag sal plaasvind.

”Ek is vreesbevange vir Dinsdag; ek wil nie my kind so sien nie,” het Zelda snikkend gesê. (Deur Deon Meyer en Liesel le Roux)

• Lees aanlyn meer oor die braaikaaster in dié berig wat verlede jaar in Die Hoorn verskyn het: https://www.diehoorn.com/nuus/braaikaaster-droom-bring-opwinding-hoop/