Borgaansoek van Rondganger: Hoof hoor slagoffer is 25 keer met mes gesteek

Werkskollegas van die vermoorde Eric Xaxaka Vrydag (29 April) buite die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Garnett Wicomb

Die vermoorde Eric Xaxaka (60) van Bongolethu in Oudtshoorn, wie se lyk in ’n vlak graf onder twee yskaste in ’n buitekamer op sy erf gevind is, is 25 keer met ’n mes gesteek. So het ao Martin le Roux Vrydag (29 April) in die borgaansoek van die verdagte, Patrick Rondganger (35), in die Oudtshoorn Landdroshof getuig.

Le Roux, wat vir die ondersoekbeampte, ao Wilfred Appollis, ingestaan het, het die borgaansoek teengestaan omdat Rondganger moontlik kan vlug. Volgens Le Roux het Xaxaka as gevolg van die steekwonde in sy nek en bors gesterf.

Xaxaka het die aand voor sy verdwyning op 6 April glo vir Rondganger, sy dogter se kêrel en pa van hul viermaandoue baba, gevra om sy huis te verlaat omdat hy glo gedurig dronk is.

Volgens Le Roux het die polisie met hul besoek aan die oorledene se huis bloedspatsels teen die kamermuur opgemerk, en het Rondganger saam met die gemeenskap en polisie na die oorledene gesoek. Die beskuldigde is ondervra waarna hy ’n bekentenis afgelê het.

Le Roux het ’n memorandum met meer as 2 000 handtekeninge ingedien waarin werkskollegas van die oorledene, familie, vriende en lede van die gemeenskap die hof versoek om borgtog aan Rondganger te weier.

Rondganger se regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, het die hof meegedeel dat hy onskuldig sal pleit omdat hy nie die misdaad gepleeg het nie. Volgens Rondganger se pleitverduideliking is hy die pa van twee kinders vir wie hy sorg en sal die weiering van bogtog ‘n negatiewe impak op hulle hê. Hy het geen ander sake teen hom nie en het van die begin af sy samewerking aan die polisie gegee.

Michaels het die hof versoek om in belang van geregtigheid borgtog aan Rondganger toe te staan omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie en ’n alternatiewe adres op Joubertina het waar hy tydens die verhoor sal tuisgaan. Dit is ook die eerste keer in sy 35 jaar dat hy met die gereg bots. Hy het ook aangevoer dat die 2 000 mense wat ’n petisie onderteken het, skaars 2% van Oudtshoorn se bevolking van meer as 90 000 inwoners is.

Rondganger se suster, Elsabe Goede, het getuig dat hy “enige tyd” by haar in Joubertina kan bly indien hy borgtog toegestaan word.

Die staatsaanklaer, Ilana Goosen, het die hof versoek om borgtog aan Rondganger te weier omdat die staat ’n baie sterk saak teen hom het, en die hof ook moet kyk na sy veiligheid indien hy vrygelaat word.

Die borgaansoek gaan op 9 Mei voort. Die aansoek dien voor landdros Ntombizandile Maseti.