Bloedjong burgemeester vir Oudtshoorn

Die Groter Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Chad Louw (24, ANC), kort na sy verkiesing saam met sy trotse ma, Hester Marnewick. Foto’s: Garnett Wicomb

Bo: Vlancio Donson (Icosa, links) en Colan Sylvester (Ogi) wat Woensdag verkies is tot onderskeidelik onder-burgemeester en spea­ker.

DIE 24-jarige Chad Louw van die ANC is gister tydens die Groter Oudtshoorn-raad se inhuldi­gingsvergadering tot nuwe burgemeester van die dorp verkies.

Louw is ’n inwoner van Dysselsdorp wat Wyk 12 vir die ANC gewen het.

Vlancio Donson van Icosa is tot onderburgemeester verkies. Hy is ’n voormalige burgemeester van die Groter Oudtshoorn.

Nog ’n voormalige burgemeester, Colan Syl­vester, is verkies tot die nuwe speaker.

Sylvester wat in 2016 verkies is tot DA-burgemeester, het in 2020 uit die DA en as raadslid bedank.

Hy is as ’n proporsionele raadslid van die Oudts­hoorn Gemeenskapsinisiatief (Ogi) tot die raad verkies.

Die ANC, Icosa en vier van die vyf nuwe partye – Ogi, die Advieskantoor, die Patriotic Alliance en Suid-Kaap Saamstaan – is die koalisie wat die raad vir die volgende vyf jaar sal bestuur en wat saam die nuwe ampsdraers verkies het.

Good het buite stemming gebly terwyl die VF Plus en DA ander kandidate gesteun het.

Die vergadering wat vir 09:00 geskeduleer was, is na ’n halfuuur verdaag tot 11:00 omdat daar nie ’n kworum van raadslede was nie. Talle inwoners het die verrigtinge op ’n groot skerm in die oudito­rium gevolg asook op Facebook waar die vergadering ook uitgesaai is. (Deur Garnett Wicomb)