Blitsig vasgetrek!

Jacques Liebenberg (34). Foto verskaf

NADAT die lyk van ’n eers onbekende man Donderdagoggend (12 Januarie), omstreeks 02:15 deur lede van die Dysseldorp Polisie langs die Kammanassiepad buite Dysselsdorp gevind is, is drie mans binne ’n dag in hegtenis geneem vir sy wrede moord.

Sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie sê polisiebeamptes het op die man – intussen geïdentifiseer as Jacques Liebenberg (34) – se lyk afgekom tydens ’n patrollie. Die man het talle oop wonde aan sy kop en gesig gehad, en hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Liebenberg, ’n man wat nie oorspronklik van die omgewing afkomstig is nie, het volgens Spies ’n wit T-hemp en grys kortbroek aangehad toe hy gevind is.

Die drie verdagtes het volgens Spies ná hul in hegtenisneming Vrydag (13 Januarie), die daaropvolgende Maandag in die Oudtshoorn landroshof verskyn. Die drie verdagtes is tussen die ouderdomme van 24 en 40.

Spies sê dat een van die verdagtes, ’n 24-jarige man, se formele borgaansoek in verband met die oorledene se moord tot 26 Januarie uitgestel is, maar dat die ander twee verdagtes vrygelaat is weens ’n gebrek aan bewyse om hulle in hierdie stadium aan die saak te verbind.

“Die ondersoek na die moord is in ’n vroeë stadium en die moontlikheid dat nog persone in hegtenis geneem kan word is nie uitgesluit nie. Die ondersoek duur voort,” het Spies gesê.

Leon Campher, ’n gemeenskaps-leier op Dysselsdorp en lid van die Groter Oudtshoorn-raad, het die moord op Liebenberg wyd en syd op sosiale media veroordeel. Campher sê inwoners is dankbaar dat die polisie hulle so goed en vinnig van hul taak gekwyt het met die inhegtenisneming van die verdagtes.

Die gemeenskap sê Liebenberg was glo ’n bekende gesig op Dysselsdorp.Volgens Campher gaan inwoners van Dysselsdorp ’n versoekskrif  opstel waarin die hof versoek word om borgtog aan die verdagtes te weier.

“Die gemeenskap het baie vrae oor die voorval. Moordenaars sal nie in die gemeenskap geduld word nie!” het hy bygevoeg.

Campher het op die Facebook-blad Oudtshoorniete Staan Saam die polisie vir hul vinnige optrede geloof.

“Baie dankie aan Dysselsdorp Polisie! Onder leiding van ao Abe Hill, wil ek onder andere ook sersante Louis Greeff en Javas, asook ao Kuhn en sers Nel en alle betrokke lede van SAPS bedank, wat verseker het dat die misdadigers vir die onsinnige moord op die man so vinnig agter tralies is

“Nog ’n beplande moord en ’n spoedige arrestasie deur ons eie ‘COPS’. Weer eens het SAPS hier gewys wat in hulle steek en hiervoor moet hulle krediet kry. Hoewel die oorledene en huidige verdagtes nie een van Dysselsdorp is nie, het ons manne binne ’n dag ’n deurbraak op ’n moordsaak gemaak en ek salueer hulle daarvoor.

“As gemeenskap gaan ons die oorledene se familie ondersteun en verseker die misdadigers word nie op borg vrygelaat nie. Ongeag wie, wat en van waar die oorledene was, was dit nooit nodig (dat) hy vermoor word en daar op (’n) verlate pad aan sy wonde gelaat is om te beswyk nie. Saam met die familie van Jacques sal ons almal wil hoor wat die rede was en dit in Dysselsdorp,” sê Campher in sy skrywe.

Inwoners met inligting oor die moord kan die ondersoekbeampte, sers Daniel Nel by 079 893 9962 kontak. (Deur Stefan Skapie Goosen en Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Blitsig vasgetrek!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*